Friday, 06 November 2009

Stylghoeroes en die naakte waarheid


Lig jou rok op,’’ sê die fyngeboude ene. Ek lig.

“Nog,’’ sê die ander.

En daar pluk ek my rok af en staan net in sykouse, ’n bra en ’n paar sandale – die gevolg van sowat 10 mense en die veiligheidswag ten spyt.

Hulle takseer; hulle bespiegel. “ ’n Baksteen,’’ juig die een.

“Nee, haar heupe is breër as haar skouers,’’ sê die ander.

Ek staan. En uiteindelik kom die uitspraak: ‘‘Jy is ’n kegel!’’

Dit beteken: gewone borste, maererige middel, taamlike maag, groterige bobene en ordentlike kuite. En dít beteken: geen skoene meer wat om die enkels vasmaak of reguit kuitlengterompe nie. Eerder bonkige hakskoene en stywe rokke wat onder uitskop.

Dit was ’n heilige oomblik om te hoor hoe die bekende modekenner-duo Trinny en Susannah my lyf kategoriseer, die skaamte van uittrek eintlik niks. Want enigiemand wat dié mooimaak-koninginne ken, weet: As hulle praat, luister jy.

Ek het hulle jare gelede vir die eerste keer in my sitkamer ontmoet, op BBC Entertainment se program What Not to Wear. Die pittige Britte vermaak TV-gehore wêreldwyd met hul raad. Sonder skroom wys hulle jou enorme borste, hangende heupsakke of dik enkels uit, en nogal heel saaklik, hoor. Hul filosofie is eenvoudig: Maak die beste van jou bates en steek jou minder goeie dele weg. Jou grootte en gewig of gebrekkige beursie hoef jou nie minder stylvol te maak nie.

Vandag gesels ons met hulle by die Style in the City-modevertonings in die Kaapse Waterfront waar hulle opgetree het. En hoewel die gehoor in angs wag om te hoor wie een van die vertoning se ses regruk-kandidate gaan wees, kan hulle nie genoeg kry van die formidabele 40-plusser-vriendinne nie.

“Die grootste probleem wat ek met mode het, is mode,” sê Trinny Woodall terwyl sy haar slanke bene oor ’n rusbank agter die verhoog vlei. “Vroue wêreldwyd word aan die neus gelei deur wat sogenaamd in die mode is. Al wat in die mode is, is wat jou lyf pas.’’

Lees wat die twee nog te sê het in Huisgenoot van 12 November.