Friday, 06 November 2009

Moordenaar sit, gesin kyk vorentoe


Hy het dié dag gesukkel om op sy werk te konsentreer. Kort-kort het hy homself betrap dat hy na die horlosie kyk of na die telefoon staar terwyl hy wonder wat meer as 1 000 km daarvandaan in die Bellville-streekhof gebeur.

Daar is Cheslyn Williams, sy vrou se moordenaar en die ekskêrel van die Idols-wenner Karin Kortjé, twee weke gelede gevonnis weens die gru-moord wat die land drie jaar gelede geruk het. Later die dag het die tronkdeure lewenslank agter hom toegeslaan, maar dit sal nie sy vrou en die ma van sy twee kinders terugbring nie, sê Wynand Kellerman (43) hartseer.

Ons gesels in sy nuwe huis in Kempton Park. Die gesin het in Januarie uit Durbanville in die Kaap getrek nadat Wynand tot bestuurder van ’n hidrouliese maatskappy bevorder is. Maar die pynlike herinnering aan die gru-moord op sy vrou, Renate (39), kon hulle nie agterlaat nie.

Dit was in Julie 2006 dat die vorige jaar se Idols-wenner, Karin Kortjé, by die Kellermans se spoggastehuis, Le Petit Chateau in Durbanville, plek bespreek het.

Die volgende oggend het Renate ontdek dat ’n onbespreekte gas saam met Karin in die kamer geslaap het. Nadat sy die twee daaroor aangespreek het, het sy gehoor dis Karin se minnaar, Cheslyn Williams. Daar is toe ooreengekom oor die betaling.

’n Paar dae later het Karin laatnag ná ’n aand in ’n musiekateljee in haar en Cheslyn se kamer op Renate se naakte en verminkte lyk afgekom. Die jong man, wat voorheen al tronkstraf weens motordiefstal uitgedien het, is kort daarna in hegtenis geneem en hierdie keer aan moord, poging tot verkragting en diefstal skuldig bevind. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

‘‘Pappa, wat beteken lewenslank?’’ wou Michaela (10) weet toe Wynand die aand ná huisgodsdiens die nuus aan sy kinders oordra. En terwyl Armandt (7) met groot oë sit en luister het, het hy verduidelik dat die man wat hul mamma van hulle weggeneem het, sommer baie, baie lank agter tralies sal bly sit.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 12 November.