Thursday, 19 November 2009

Aap eet vrou se gesig af


Haar gesig is so erg vermink dat sy agter ’n sluier moet wegkruip sodat sy nie ander mense met weersin vervul nie. En diegene wat gewonder het of dit dan regtig nodig is, het hul antwoord gekry toe Charla Nash uiteindelik die moed bymekaargeskraap het om vir die wêreld te wys hoe sy lyk.

Nege maande gelede het die 56-jarige enkelma van Connecticut in Amerika albei haar oë, haar neus, lippe en hande verloor toe ’n vriendin se sjimpansee haar aangeval het.

En vroeër vandeesmaand, terwyl miljoene mense met opgehoue asems gewag het, het Charla uiteindelik op Oprah Winfrey se kletsprogram die sluier gelig.

Die gesig wat hulle begroet het, was so gruwelik geskend dat almal in die gehoor hoorbaar na hul asem gesnak het.

In ’n aangrypende gesprek met Oprah het Charla vertel hoe Travis, die 14-jarige sjimpansee van haar vriendin en werkgewer, Sandra Herold, 12 minute lank die grootste deel van haar gesig en kopvel weggevreet en haar vingers afgekou het.

Dokters kon een van haar duime heg, maar moes haar oë weens infeksie verwyder. Hulle het weefsel van haar been gebruik om vir haar ’n bolagtige neus op te bou, en het ’n gaatjie in haar gesig gemaak sodat sy voeding deur ’n strooitjie kan inneem.

Hopelik sal sy eendag weer ’n worsrolletjie of pizza kan eet, sê Charla. Sy kan wel praat, maar by tye is dit onverstaanbaar.

Charla het by Sandra se insleepdiens, wat sy uit haar huis bedryf het, gewerk. Op 16 Februarie het haar werkgewer haar gebel en gevra om te kom help om Travis weer in sy hok te kry nadat hy ontsnap het.

Toe sy daar aankom en uit haar motor klim, het Travis haar aangeval. Sy 70-jarige eienaar het alles in haar vermoë gedoen om haar vriendin te red en het die sjimpansee van 90 kg met ’n graaf geslaan en selfs met ’n slagtersmes gesteek, maar die aanval het eers opgehou toe die polisie opdaag en die dier doodskiet.

Dit is ’n wonder dat Charla die aanval oorleef het. Sy word steeds in die Cleveland-kliniek in Ohio behandel.

Volledige artikel en foto’s in Huisgenoot van 26 November.