
Daar is op die oomblik ’n debat in ons huis – moet ons Kindle of moet ons nie?
Vir dié wat nog nie weet nie, dis Amazon se e-boek, dis van verlede maand af in Suid-Afrika te kry en ons het een getoets om te kyk waaroor die bohaai gaan.
Die Kindle is so groot soos ’n A5-notaboek, dis van wit plastiek en het ’n skerm waarop jy enige van die 250 000 e-boeke kan lees wat die internetwinkel Amazon al beskikbaar het.
Of jy kan inteken op koerante soos The New York Times, The Daily Mail en The Financial Times en tydskrifte soos Time, Newsweek en Forbes, en vir veel, veel minder as wat die gedrukte weergawe in die winkel kos.
Die Kindle is een van die witwarmste nuwe tegnogoed op die mark – die iPod van boeke, kan jy maar sê. Jy kan 1 500 boeke daarop bêre en in jou handsak saamdra, nes jy duisende liedjies op jou iPod kan bêre pleks van CD’s rond te karwei.
Ek en my man is dol oor boeke en ewe dol oor tegnologie, en ons was seker ons sou dieselfde voel oor dié nuwe tegno-baba. Toe nie. Hy is ’n aanhanger, ek nie.
Dis te koud en onemosioneel en ek kan nie in die “bladsye” verdiep raak nie, kla ek.
Maar dink net, jy kan ’n hele boek in minder as ’n minuut aflaai, sê hy. G’n ryery na ’n boekwinkel toe nie, g’n dae se wag dat jou boek in die pos opdaag nadat jy hom bestel het nie.
Dit ruik nie soos ’n boek nie, sê ek. En dit maak ’n snaakse ‘‘blienk’’-geluid wanneer jy die blaaie omblaai. Dis irriterend.
Dink net hoeveel meer plek ons sal hê vir . . . vir dit waarvoor vroue ook al plek nodig het, kap hy terug, as ons nie so baie boeke in ons huis het nie.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 19 November.