Thursday, 19 November 2009

Rob Louw se kankerstryd


Hulle is amper te bang om te gou bly te word, maar hulle is nou meer positief as tevore dat Rob Louw, ons gewilde Springbok-flank van die tagtigs, inderdaad triomfantelik uit die grootste toets van sy lewe gaan tree.

En dis alles te danke aan die flinke optrede van sy jare lange vriend die sakemagnaat Johann Rupert, wat geen steen onaangeroer gelaat het toe hy hoor Rob het die potensieel dodelike velkanker-melanoom nie.

Binne twee dae was sy paspoort hernu, en Rob en sy vrou, Azille, op pad na die wêreld se heel beste kankerhospitaal in Houston, Amerika, waar hy nou Adoptive T-selterapie gaan ontvang, ’n splinternuwe tegniek om kankerselle dood te maak.

Maar voor die finale stap op 8 Desember, was daar eers dae van toetse en ’n ingrypende operasie van drie uur lank wat sou bepaal of hulle kon voortgaan.

“Die groen ligte flikker nou heelpad,” sê ’n verheugde en verligte Azille wat vir twee weke terug is by hul huis in Kaapstad. Hul oudste dogter, Roxy (22), bekende model en
branderplankryer, is by haar pa wat tans in die Bahamas aansterk voor sy volgende operasie.

“Rob het so na ons kinders verlang, maar die lang reis na Suid-Afrika sou net te vermoeiend wees vir hom,” sê Azille terwyl sy haar twee jonger dogters, Misty (20) en Shahnee (19), aan weerskante van haar op die bank ’n stywe druk gee.

“Dit was maar moeilik vir hulle, met Shahnee in die middel van haar matriekeksamen en Misty wat haar eerstejaarseksamen by die Universiteit van Stellenbosch skryf.

“Ons kon nie Shahnee se matriekafskeid bywoon nie en ook nie hul kunsuitstalling nie. Ons jongste, Robbie (17), het nie veel gesê nie en maar die beste van die saak gemaak.” Azille wys na al die leë kosbakke op hul eetkamertafel. “Jy kan nie glo hoe ongelooflik ons bure en vriende was nie. Hulle het deurlopend gesorg dat die kinders kos en aandag kry. Hulle het nooit alleen gevoel nie.”

Lees meer oor Rob Louw se behandeling in Huisgenoot van 26 November.