
Sy het nog ’n kort rukkie bly staan nadat die verbysnellende motor haar been afgeruk het. ‘‘Ek het afgekyk en besef my been is weg. Toe eers het ek omgeval,’’ vertel Hanjé Pistorius.
Die dapper student aan die Universiteit van die Vrystaat het besef as iets nie bitter gou gedoen word nie, kan sy haar doodbloei. En net daar, op die ongelukstoneel in Curiestraat in Bloemfontein, het die eerstejaar- mediese student haar eie lewe gered deur mense te wys hoe om die wond toe te druk tot die nooddienste opgedaag het.
Dit is byna drie weke later en Hanjé kom op krukke ingestap by die deur van die gastehuis waar sy en haar ouers nou tuisgaan. ’n Sonrokkie bedek net-net haar linkerbeen wat ná die ongeluk bo haar knie afgesit is.
Maar dis nie die af been wat jou eerste van die donkerkop opval nie. Dis die hartlike glimlag en die innemende blou-groen oë.
‘‘Ek is nie bitter nie. Ek wil nou aangaan met my lewe,’’ vertel sy. ‘‘Toe ek in die hospitaal wakker word nadat my been afgesit is, was ek ontsteld. Ek het toe bly dink wat sou gebeur het as ek net ’n treetjie vorentoe of agtertoe gestaan het. Maar uiteindelik is ek net bly ek het nie my arm verloor nie, want dan sou ek nie met my studie kon voortgaan nie.’’
Want sy sal haar kursus klaarmaak; daaroor is sy vasbeslote. En sy skryf einde vandeesmaand eksamen. Sy dink nie sy was dapper op die ongelukstoneel nie. ‘‘Ek het gedoen wat enigiemand sou gedoen het. Ek was gelukkig dat ek geweet het waar om die arterie toe te druk. En gelukkig was daar wonderlike mense rondom my wat my gehelp het.’’
Maar Hanjé – wat net twee dae ná die ongeluk reeds op haar krukke begin rondloop het – is ’n inspirasie nie net vir haar medestudente nie, maar ook vir die rektor van Kovsies.
Prof. Jonathan Jansen was so beïndruk met haar nadat hy haar ontmoet het dat hy na haar verwys het in sy inhuldigingstoespraak.
Lees meer oor Hanjé in Huisgenoot van 12 November.