Friday, 27 November 2009

Raymond Ackerman tree af


Sou jy ooit kon raai die koning van kruidenierswinkels in Suid-Afrika se gunsteling-kos is brood met grondboontjiebotter? Of boerewors en skyfies, ’n “luukse’’ wat sy “streng’’ vrou nie sommer elke dag toelaat nie!

Nog verrassender is dat sy sakeryk, Pick n Pay, nooit die lig sou gesien het as Checkers hom nie destyds in die pad gesteek het nie . . .

Die jong Raymond Ackerman het as hoofbestuurder van supermarkte die direksie van Checkers in die sestigerjare glo geïrriteer met sy “gebabbel’’ oor “lawwe idees en strategieë’’. En op 35 was hy toe skielik die werklose pa van vier kinders.

Terwyl hy hul vier kruidenierswinkels binne enkele jare tot 85 winsgewende takke uitgebou het, het hulle reguit gesê sy kop raas en hulle is siek en sat daarvoor dat hy nie na die ouer manne in die direksie luister nie. Hy is twee weke se salaris betaal en moes dadelik sy kantoor ontruim.

“Dit was die grootste skok en die swartste dag van my lewe,’’ vertel die 78-jarige “Hiperman’’ – soos vriende hom soms noem – op die vooraand van sy uittrede as voorsitter van Pick n Pay. Sy oudste seun, Gareth (52), sal voortaan sy formidabele skoene moet vol staan.

Raymond het toe ná sy ontslag in 1966 dié winkelgroep met net drie takke gekoop en dit uitgebou tot vandag se byna 800 winkels in Suider-Afrika en Australië met meer as 60 000 werknemers en ’n omset van meer as R60 biljoen per jaar.

In sy kantoor in Kaapstad kyk hy waarderend na Wendy (73), sy vrou en sielsgenoot van die afgelope 52 jaar.

“Ek was verpletter toe ek die dag tuis kom, ons drie kindertjies sien speel en die vernederende nuus moes oordra aan my swanger vrou wat toe siek was.Sonder oogknip of traan sê sy toe: ‘My skat, vandag is die beste dag van jou lewe!’ ’’

So het die grootste laagtepunt in Raymond Ackerman se lewe in sy triomf verander – ’n omvattende sakeryk waarby al vier sy kinders betrokke is.

Die volledige artikel verskyn in Huisgenoot van 3 Desember.