
Meteoriete tref die aarde, wolkekrabbers verbrokkel en duisende gillende toeriste sterf terwyl die Groot Muur van China ineenstort. Dié wat wonderbaarlik oorleef, vlug, maar tevergeefs. Die einde van die wêreld is in sig . . .
En nou het skoktonele soos hierdie uit die nuwe rampfliek 2012 die doemprofete van die wêreld opnuut op hol, want die rillerprent is op werklike eeue oue voorspellings gegrond: dat die aarde nog net drie jaar oor het voor die einde ons tref . . .
Die fliek, wat op 4 Desember begin draai met John Cusack en Amanda Peet in die hoofrolle, is geïnspireer deur ’n aanduiding van die antieke Maja-beskawing (wat in die eerste helfte van die vorige millennium in Mexiko en Guatemala bestaan het) dat die einde van die wêreld in 2012 gaan aanbreek.
Dit is na aanleiding van ’n kalender van die Majas wat oor 5 125 jaar strek en skielik op 21 Desember 2012 eindig.
Daar word al dekades lank bespiegel dat dit net een ding kan beteken – dat die Majas voorkennis gehad het dat die wêreld op dié dag gaan eindig. Allerlei stories het om die misterieuse datum ontstaan, soos dat ’n apokalips aan die kom is omdat die aarde in die teenoorgestelde rigting sal begin draai, of dat ’n tot nou onbekende planeet genaamd Nibiru, oftewel Planeet X, teen die aarde gaan bots – albei hierdie bewerings word deur kundiges as “laf’’ afgemaak.
Maar nie almal beskou die datum as ’n aanduiding van ’n katastrofe nie. Aanhangers van die New Age-beweging meen eerder dit beteken die planeet en sy mense sal ’n geestelike transformasie ondergaan en dat die datum dus die begin van ’n nuwe era inlui.
Terwyl die meeste mense die voorspellings met ’n stewige knippie sout neem, is daar nogtans meer as 200 boeke hieroor op die internet-boekwinkel Amazon alleen te kry. Op die internet self is daar meer as twee miljoen artikels oor 2012. En natuurlik sal daar altyd dié wees wat probeer munt slaan uit enigiets opspraakwekkends, soos die verkopers van oorlewingsgidse en T-hemde met slagspreuke soos 2012 The End en Doomsday 2012.
Kry nog inligting hieroor in Huisgenoot van 3 Desember.