Friday, 13 November 2009

Tydbom in ons skole


Ná net ses jaar is dit duidelik die UGO-stelsel werk nie – en ’n geslag jonges is nie reg vir die volwasse lewe nie.

UGO is ’n opvoedkundige filosofie waarvolgens leerders dinge in die klas moet leer wat hulle op die lewe buite kan toepas. Maar talle haakplekke het meer tot frustrasie as bemagtiging gelei.

Van onderwysers is verwag om 3 008 uur se onderrig en assessering in een formele werkjaar van 1 464 uur af te handel, is by die Universiteit Stellenbosch in ’n studie oor UGO bevind. Sommige onderwysers, veral in townships, moet ’n klas van tussen 60 en 70 onderrig.

UGO werk goed as die klasse klein is, die onderwysers goed opgelei is en al die leerders ongeveer op dieselfde peil is. “Ons voldoen nie aan een van die vereistes nie,” sê dr. Jeanette de Klerk-Luttig, ’n onderwyskundige van Stellenbosch.

Leerders kan eers “krities evaluerend dink” (soos UGO vereis) nadat hulle die grondbeginsels van ’n vak baasgeraak het. Maar die aanleer van basiese vaardighede soos lees en berekeninge het agterweë geraak. “Daar is sekere feite wat eenvoudig gememoriseer moet word voor jy verder daarop kan bou,” sê Jeanette de Klerk-Luttig, onderwyskundige van Stellenbosch.

In baie klasse is handboeke nie gebruik nie en daar is te veel gefokus op groepwerk, waar goeie leerders oorheers het. Andersins was daar ’n gebrek aan goeie handboeke sodat onderwysers en leerders oormatig self voorbereiding moes doen.

Wat in 2010 en 2011 gaan gebeur:
Al die leerders van gr. 4 tot gr. 12 sal voortaan hul eie handboeke vir elke vak hê. ’n Ekstra R524 miljoen is hiervoor bewillig. Al die boeke sal op een plek gedruk en van daar versprei word. Maar dis nog onduidelik hoe vinnig dit sal kan gebeur.

Die leerders in gr. 3, gr. 6 en gr. 9 sal jaarliks in wiskunde, hul eerste taal en hul eerste bykomende taal getoets word om te kyk of hulle op peil is. Matriekleerders sal nie meer portefeuljes hoef saam te stel nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 19 November.