Thursday, 19 November 2009

Nuwe pil om mans woema te gee


Nuwe pil met zieng help vir ’n slap riem! kondig die koerant nou die dag stuitig aan.

En dié een, hoor ons, is veral vir die romantiese siele wat nog glo in spontaniteit en nie so koelbloedig vooruit wil beplan voor hulle tot aksie oorgaan nie. Hulle kan nou elke oggend ’n pilletjie sluk, net vir die wis en onwis, en dan is hulle altyd slaggereed. Met ’n bietjie liefde vooraf, natuurlik.

Dié nuwe weergawe van Cialis, ’n ou bekende hulpmiddel teen erektiele disfunksie (ED), is pas in Suid-Afrika bekendgestel. ’n Enkele pil werk 24 uur lank. Mans neem dit dan soos enige ander daaglikse middel en vergeet daarvan – en siedaar, die liefde blom sonder vooraf beplanning! Maar soos met die ander pille moet daar voorspel en seksuele stimulasie wees om dit te laat werk. Jy moet dus met jou brein wil seks hê.

Meer as 90 persent van die mans wat die middel twee jaar lank geneem het, sê dit werk, lui ’n artikel in die Journal of Sexual Medicine. En dis veilig, verseker die navorsers.

En moenie dink dis net die enkele arme siele wat hierby kan baat vind nie, want tot een uit elke 10 mans het ereksieprobleme – na raming 150 miljoen wêreldwyd.

Die helfte van alle mans bo 40 sukkel om ’n ereksie te kry of te behou, sê dr. David Smart, ’n uroloog van Pietermaritzburg en sekretaris van die Urologie-vereniging van Suid-Afrika.

Hoe ouer ’n man word, hoe groter is die kans op probleme, en 70 persent van mans bo 70 het erektiele probleme. “Dit is nie ’n siekte nie, maar die simptoom van ’n dieperliggende probleem wat óf fisiek óf sielkundig óf albei kan wees,” sê Leandie Buys, ’n seksuoloog van Port Elizabeth.

Die seksdrang neem af met ouderdom. Dis natuurlik. En dis ook nie vreemd dat ’n man van enige ouderdom soms ereksieprobleme ondervind nie. Dit kan weens oormatige alkoholgebruik, angstigheid of moegheid wees, sê sy.

Kry meer inligting oor hierdie nuwe middel in Huisgenoot van 26 November.