
Dit het begin met ’n onlesbare dors. “Ek moes my kop in die wasbak druk en my mond onder die kraan hou sodat die water in my keel kan inspuit,’’ vertel die 13-jarige Cállum Hall van daardie Jeugdag vroeër vanjaar toe hy skielik besef het iets skort met hom. Dit was diabetes, en vandag is hy een van miljoene mense wat daarmee moet saamleef.
In 2006 was daar reeds sowat 230 miljoen lyers wêreldwyd – en hulle is toenemend kinders. Oor 20 jaar kan dié epidemie tot 350 miljoen groei. Diabetes veroorsaak jaarliks wêreldwyd ewe veel sterftes as MIV/vigs en elke 10 sekondes sterf iemand weens diabetes-verwante komplikasies. Om bewustheid van die siekte op te skerp, word Wêrelddiabetesdag op 14 November gehou.
“Ek het nie geweet wat met my aangaan nie,’’ vertel die sproetgesig van Tableview buite Kaapstad. Hy is sportief en speel graag hokkie, maar op daardie dag in Junie het hy groot geskrik toe hy op die skaal klim. Hy het binne drie dae 9 kg verloor.
“Daardie Dinsdag het ek die hele dag by die skool in die siekekamer geslaap,’’ vertel Cállum. Pa Gary het toe “dors’’ as simptoom op gesondheidswebtuistes ingetik en heel boaan die lysie van moontlike siektes was diabetes.
“Maar diabetes was die laaste ding wat ons gedink het met hom verkeerd kon wees en ons het dit as opsie geskrap,’’ vertel Gary. “Ons het hom die res van die week bly monitor en toe hy teen Vrydag nog nie beter was nie, het ons hom by die dokter uitgekry.’’
Ma Millicent ril. “Hy het verskriklik gelyk, soos iemand uit ’n konsentrasiekamp. Ek het hom in die stort gesit voor ons dokter toe is. Toe ek later terugkom, het hy op die vloer gelê. Hy was te swak om self die kraan toe te draai.’’
Cállum onthou die dag soos gister. “Die dokter het my vinger geprik om bloed te kry. Binne ’n minuut of twee het ons geweet: Ek is ’n diabeet, ’n woord wat ek voorheen nog net in die lewensoriënteringklas gehoor het.’’
Lees meer oor kinder-diabetes in Huisgenoot van 12 November.