Friday, 27 November 2009

Caster-debakel vlek ASA oop


Ons land se atletiek sit in ’n liederlike gemors, met die raad van Atletiek Suid-Afrika (ASA) wat geskors is oor hul leuens oor die Caster Semenya-geslagstoetse, en ’n tussentydse raad wat ons atletiek moet probeer red. Maar hoe moontlik is dit? Want ons sportbase het deur die jare soveel atlete vervreem en Caster is maar net die laaste van ’n rits slagoffers. Yvonne Beyers en Sulaiman Philip het gaan vasstel waarom soveel atlete sê: “Ek wil my land nooit weer op die atletiekbaan verteenwoordig nie . . .”

Waar sy pas haar eerstejaareksamen in sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria geskryf het en steeds daagliks oefen vir volgende jaar se atletiekseisoen, laat Caster Semenya klaarblyklik nie toe dat die internasionale herrie oor haar geslag haar ontstig nie.

Terwyl die internasionale atletiekbase besluit het om die uitslag van geslagstoetse op haar geheim te hou, hoop die jong wêreldrekordhouer steeds haar loopbaan is nie verby nie. “Sy’s nie verbitterd nie, sy is in ’n goeie bui en sy hou haar kop omhoog,” sê Wilfred Daniels, ASA se hoofafrigter tot hy oor die Caster-fiasko bedank het. “Sy wil nie by die politiek betrokke raak nie; sy wil net die ruimte hê om haar lewe van voor af op te bou.

“Caster wil net soos enige ander 18-jarige aangaan met haar lewe. Sy het ons volwassenes ’n les geleer, want sy het gewys dis moontlik om bo jou omstandighede uit te styg. Sy laat die res van ons klein lyk.”

Maar terwyl sy weier om vinger te wys, is vele ander Suid-Afrikaanse atlete besig om ’n katalogus van verwyte teen die geskorste raad van ASA op te bou. Want Caster is die simbool van ’n stryd wat al jare lank woed. Sy is maar net een van die atlete wat ASA in die steek gelaat het, sê hulle.

“Dis hartverskeurend dat Caster deur so ’n traumatiese ervaring moes gaan, maar daarsonder sou die probleme by ASA saam met die res van ons na ons graf gegaan het,” sê Geraldine Pillay, ’n uitgetrede naelloopatleet. “Dit het die hele byenes oopgekrap.”

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 3 Desember.