Friday, 13 November 2009

Pasop, masels kan dodelik wees


Hy was nog nooit so siek nie. Die uitslag op sy vel is so seer soos kwaai sonbrand en wanneer die hospitaal se lakens daarteen skuur, voel dit soos skuurpapier. Hy sukkel om te loop, want dit voel asof daar honderde blase op sy voetsole is.

Ná ses dae in die hoësorgeenheid van ’n privaat hospitaal in Sandton voel die voormalige Survivor Suid-Afrika-finalis Gareth Tjasink (30) vandag die eerste keer gesond genoeg om oor sy maselnagmerrie te praat. Die man wat ook al ’n rol in Egoli vertolk het, is vanoggend na ’n gewone saal oorgeplaas, maar hy klink nog baie broos toe ons oor die telefoon met hom gesels.

Gareth is maar een van 1 886 mense in Gauteng alleen wat van Maart af platgetrek is deur die maselepidemie wat soos ’n veldbrand deur die provinsie versprei het. En al is die gemiddelde ouderdom van die slagoffers net 13 jaar, is hy een van vele volwassenes wat dié kindersiekte opgedoen het.

So bekommerd is Gauteng se departement van gesondheid oor die epidemie van die siekte wat deur spoeg en neusafskeidings versprei word, dat hulle nou met ’n intensiewe inentingsveldtog van meer as twee miljoen mense begin het.

Gareth, ’n dokter by die Netcare Linksfield-hospitaal se noodgevalle-eenheid, is in die hoësorgeenheid in die kliniek in Sandton opgeneem uit vrees vir potensieel dodelike komplikasies omdat kindersiektes by volwassenes veel gevaarliker is as by kinders en die risiko vir komplikasies ook veel groter.

Volwassenes word baie sieker van so ’n kindersiekte as kinders omdat die inenting wat hulle destyds teen die siekte gekry het, al verswak het, verduidelik dr. Karin de Witt, ’n huisdokter van Pretoria. Gareth kon kleintyd weens ’n allergie vir die eierwit wat in die maselentstof voorkom, nie ingeënt word nie.

“Ek het die allergie ontgroei en wou vir die inspuiting gaan, maar ek was so besig met die reëlings vir my troue op 5 Desember dat ek nooit daarby uitgekom het nie,” vertel hy.

En so amper moes hy toe sy troue met Katharine Fisher (28), ’n sielkundige, uitstel.

Lees wat kenners sê oor hierdie siekte in Huisgenoot van 19 November.