Friday, 03 April 2009

Troetelpakkies teen misdaad


Ouderdom het niks te doen met hoe ruim jou hart is of watter verskil jy kan maak in die lewe van mense wat swaarkry nie. Elkeen het iets om te gee, en ons nooi jou vandag om mee te doen – met die veertienjarige Hannah-Rose Smith van Kaapstad as inspirasie.

Die jong skoolmeisie het as gr. 7-leerder van die Oakhurst-laerskool vir Meisies begin om troetelpakkies vir misdaadslagoffers te maak. Vir slagoffers van algemene misdaad pak sy en haar vier maats wat met die projek help, byvoorbeeld notaboekies, penne, handeroom en sneesdoekies in die troetelpakkies. In oorlewendes van verkragting se pakkies is daar onderklere, energiestafies en toiletware.

Die slim idee is gebore toe Hannah-Rose se tante, wat as traumaberader werk by die polisiekantoor in Rondebosch, Kaapstad, voorstel dat sy iets saam met die polisie doen vir haar gemeenskapsprojek vir die Girl Guides.

‘‘Om tot die volgende vlak in die Girl Guides te vorder, moes ek ’n projek uitdink; iets wat die gemeenskap waarin ek bly die nodigste het,’’ verduidelik Hannah-Rose, nou ’n gr. 9-leerder aan die Rustenburg-hoërskool vir Meisies. ‘‘Ons het probeer dink watter dinge misdaadslagoffers sou troos, en dis hoe die idee vir troetelpakkies gebore is.’’

In die drie jaar dat sy die projek lei, het sy en haar maats ’n allemintige 2 500 pakkies gepak wat by die traumasentrum van die Rondebosch-polisiekantoor uitgedeel word.

Die produkte vir die pakkies word hoofsaaklik geborg of met skenkings gekoop. Die meisies het by Rape Crisis gaan kers opsteek om seker te maak die pakkie is nuttig. Hulle besoek ook gereeld skole en Girl Guide-groepe soos die een in Kampsbaai om werksessies aan te bied.

‘‘Ek was darem nog nie self direk ’n slagoffer van misdaad nie,’’ sê Hannah-Rose.

‘‘Daar was twee jaar gelede ’n inbraak in ons motorhuis, maar gelukkig was ek by die skool toe dit gebeur het. Ek kan my wel indink hoe dit moet voel om bang en verward by die polisiekantoor op te daag ná ’n misdaad. Ek sou graag wou hê ’n troetelpakkie moet daar vir my lê en wag.’’

Haar ma, Natasha, is ook nou ’n traumaberader by die polisiekantoor. Dit was vir haar wonderlik om te sien hoe haar dogter geblom het sedert sy by die gemeenskapsprojek betrokke geraak het.

‘‘Sy was altyd baie stil, maar veral deur die werksessies wat sy aanbied, het sy uit haar dop gekruip. Dit het haar baie selfvertroue gegee om te weet sy doen iets wat ander in nood help. Sy is bewus van misdaad, maar nie bang daarvoor nie, juis omdat sy betrokke is by iets positiefs om teen misdaad te stry.’’

Hannah-Rose en Natasha sien watter verskil hulle maak as hulle die pakkies uitdeel.

Lees in 9 April se Huisgenoot hoe jy kan help.