Thursday, 16 April 2009

Sol se spoghotel in die Kaap


Jare lank al praat hulle van Sol Kerzner wat ná donkiejare weer iets in ons land gaan doen, iets baie groots, met dalk die luuksste hotel wat Afrika nog gesien het, met ongekende weelde, lafenis en diens vir superrykes wat in die hartjie van die Moederstad wil gaan wegkruip.

Dit is pas onder groot trompetgeskal en gefuif met beroemde gaste soos die akteurs Clint Eastwood, Sharon Stone en Robert de Niro en ’n horde ander glansmense geopen.

Met sy One&Only Hotel van R1 biljoen keer Sol terug na sy geboorteland waar hy in die tagtigerjare al die grootste plaaslike hotelmagnaat geword het. Dit is ’n hele sewentien jaar ná die opening van sy majestueuse Lost City in 1992 in die Pilanesberg. Hy het reeds nege One&Onlys – in die Bahamas, Mauritius, Doebai, die Maledive en Mexiko – gevestig en nou die vlagskip vir Afrika in die hart van die Kaapse Waterfront opgerig – net betyds vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat aanstaande jaar derduisende na Kaapstad sal lok.

Die hotel bestaan uit die Marina Rise van sewe verdiepings met 91 suites waar jy van R3 950 tot R13 500 moet opdok om te oornag. Dis as jy nie in die Tafelberg-suite teen R25 000 of die presidensiële suite teen R35 000 per nag wil gaan slaap nie. Elkeen het twee slaapkamers en ’n pragtige uitsig op Tafelberg.
In die water voor die sessterhotel is twee mensgemaakte eilande. Op die een is ’n luukse spa en op die ander villas, oftewel “eiland-suites”, waar jy vanaf R4 950 per nag vir ’n eenvertrek-suite tot R12 000 vir ’n eenslaapkamer- en R18 000 vir ’n tweeslaapkamer-suite betaal.

Van die drie dakwoonstelle wat te koop is – en die sesde en sewende verdieping van die hotel beslaan – is een reeds teen R110 miljoen opgeraap. Dit sluit darem ’n privaat hyser en toegang tot al die geriewe van die hotel in . . .

Kry ʼn kykie na al die luukshede in Huisgenoot van 23 April.