Thursday, 16 April 2009

Doebai op die rand van bankrotskap


Dit was soos iets uit ’n futuristiese feëverhaal – ’n glinsterstad wat binne ’n dekade verrys het uit die sandduine, so asof iemand ’n towerstaf geswaai het. Doebai is ’n wonderwêreld met wolkekrabbers wat in die rondte draai, die wêreld se enigste sewester-hotel en mensgemaakte eilande vir die sterre en superrykes.
Die stad, wat skaars twee miljoen inwoners het, spog met die wêreld se hoogste gebou, die Burj Dubai, asook die grootste winkelsentrum met parkeerplek vir 16 000 motors en altesaam 272 hotelle.

Westerlinge, onder wie ’n geraamde 25 000 Suid-Afrikaners, het daarheen gestroom vir die skynbaar eindelose werkgeleenthede met vet belastingvrye pakkette, goedkoop motors, uitstekende mediese sorg en ’n feitlik misdaadvrye lewe.

Maar in ’n skokkende wending het die wêreldwye ekonomiese insinking Doebai eensklaps van sy goue status gestroop. Mense word daagliks afgedank en bouwerk in die stad het tot stilstand gekom.

In die afgelope vier maande is 3 000 motors eenvoudig by Doebai se internasionale lug-hawe agtergelaat nadat buitelanders, wat 80 persent van die stad se arbeidsmag uitmaak, landuit begin vlug het uit vrees vir tronkstraf weens skuld. In Doebai is dit strafbaar met tot drie jaar agter tralies.

En langs Sheikh Zayed-weg, Doebai se superhoofweg met agt bane, staan hyskrane verlate by halfklaar geboue nadat 53 persent van die bouprojekte in die stad op die lange baan geskuif is.

‘‘Ons kry daagliks meer en meer motors,’’ het ’n senior veiligheidsbeampte by die lughawe aan ’n Britse koerant gesê. In van die motors se paneelkissie was kredietkaarte, wat vermoedelik tot op hul limiet gebruik is. En op een motor se voorruit was ’n briefie: ‘‘Huis toe, jammer.’’

Die woorde: ‘‘Verlaat Doebai, moet verkoop’’ is ’n algemene gesig in plaaslike koerante in die advertensies van vlugtende buitelanders wat huisraad probeer verkoop. En eens gesogte kantoorgeboue staan nou leeg.

‘‘Van my vriende en kennisse het hul werk verloor,’’ sê Adele Engelbrecht, ’n Suid-Afrikaner wat twee jaar gelede Doebai toe getrek het.

Lees meer oor die geldkrisis in Huisgenoot van 23 April.