Friday, 24 April 2009

Selfmoordbrug se redder knak byna


Dis so halftwee die Woensdagmiddag toe hy die oproep ontvang. “Dis die brug. Daar’s ’n vrou. Sy gaan spring. Asseblief, jy’s al een . . . ”

Hy wil alles net so los en daarheen jaag. Dis instink, sewe jaar al, maar sy hele wese sit verskeur tussen iemand wat hom nou nodig het en die belofte wat hy aan sy gesin gemaak het.

“Jy het ’n slag daarmee!” weerklink die woorde wat insp. Francois Nell (37) al soveel keer gehoor het oor die letterlik honderde mense wat hy daar op die brug kon oorreed om nie hul eie lewe te neem nie.

Maar dit het sy tol geëis. Elke keer as hy misluk het, was daar die gevoel van magteloosheid, depressie. Die verdomde Satansbrug oor die Van Stadensrivier! Dis so asemrowend mooi, die lowergroen kloof, maar dis ’n plek wat mense se lewe verwoes. En so amper het dit toe ook syne geëis . . .

Dié uitmergelende werk het hom mettertyd self laat knak, in ’n vreemdeling verander by die huis. “Pappa, ek is bang vir jou,” hoor hy sy dogtertjie se stem. En die woorde van sy vrou: “Jy is nie meer die man met wie ek getrou het nie.”

Toe het hy belowe hy sou nie weer nie. Maar vandag kan hy nie anders nie; hy moet gaan. En die adrenalien bruis soos van ouds deur sy liggaam voor die uitdaging wat kom.

By die vierbaanbrug buite Port Elizabeth is dit onheilspellend stil. Daar staan sy, ’n donkerkop-vrou van so in die dertig in ’n geblomde hemp, aan die verkeerde kant van die reling, met ’n Bybel in haar hand.

Hy stap hande in die lug na haar. “Ek kom in vrede,” paai hy. “Daar is oplossings . . .”

“Moenie nader kom nie,” keer sy hom in sy spore.
Sy kyk na haar Bybel, kyk hom dan koel in die oë. “Good bye!” roep sy en val vorentoe. Instinktief gryp hy, maar tevergeefs.

“Nes elke keer tevore het ek oorgekyk, en gesien hoe die ruigtes daar onder haar insluk en oor haar toevou. Toe wel die drang in my op om self te spring – maar ek het dit vinnig weggedruk en weggestap.”

Lees hierdie aangrypende verhaal in Huisgenoot van 30 April.