Thursday, 16 April 2009

Mathys Roets se ma praat


Sy het die oggend nog met haar oudste oor die telefoon gepraat. Hy was met sy motorfiets op pad na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en het van Bloemfontein gebel om te sê hy gaan net so 100 km verder by ’n vriend op sy plaas naby Wepener kuier.

Die twee wou die middag eers met sy vriend se vierwielmotorfietse op die grondpaaie kerjakker voor hy die volgende oggend met sy geel BMW verder sou ry na die KKNK, het Mathys nog vertel.

“Ek het gedag dis mos nog net ’n entjie; ek kan nou maar rustig wees,” vertel die sanger se ma, Meisie Roets, waar sy meer as ’n week ná daardie gesprek verslae in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein se koffiewinkel sit.

Want die volgende oproep wat sy ontvang het, was een om te sê daar was ’n ongeluk: Mathys het nie op die plaas aangekom nie; hy is in ’n ambulans op pad Bloemfontein toe.

Êrens tussen Dewetsdorp en Wepener in die Suid-Vrystaat het dinge erg skeefgeloop. Wat gebeur het, is steeds onduidelik, maar haar kind is saam met sy fiets meters ver oor die teerpad geslinger.

“Jy kan daardie oomblik nie beskryf nie,” sê Meisie. Sy en haar man, Boet, was naby Uniondale uit Pretoria op pad Oudtshoorn toe, nog met Mathys se kitaar in die kattebak, toe hulle die nuus kry.

“Jou kind mag nie pyn hê nie. Hy mag net nie,” sê sy. “Ons het nie geweet wat om te doen nie.” Moes hulle vlieg? Moes hulle ry? In hul skok het hulle seker drie keer van plan verander, tot hul dogter, Marié Greyling, gebel het om te sê sy staan langs Mathys se bed in die hospitaal en Mathys is stabiel.

Hulle ry, kon hulle toe eindelik besluit. Sy beskryf die leë gevoel toe sy haar lieflingkind die eerste keer met al die pype so leweloos daar in die waakeenheid sien lê. “Ek was geskok. Jy voel so verwese, jy kan niks doen nie . . . jy is magteloos. En al die pype en goeters is skrikwekkend vir ons mense wat nie weet nie.”

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 23 April.