Friday, 24 April 2009

Slumdog-kind byna verkoop


Met haar blink ogies en raaf-swart hare het Rubina Ali oornag ’n superster geword toe sy uit die krotbuurte van Moembaai gehaal is om Latika in Slumdog Millionaire te speel.

Die fliek oor ’n seun uit ’n krotbuurt wat 20 miljoen roepees op ’n TV-program wen, het agt Oscars losgeslaan en al meer as R2,4 biljoen wêreldwyd laat inrol – maar nou het die sprokie vir klein Rubina skielik baie lelik geword (Huisgenoot, 5 Maart 2009).

Die negejarige meisietjie se pa, Rafiq Qureshi, is ’n week of wat gelede in hegtenis geneem nadat ’n Britse koerant uit Indië verneem het hy bied sy dogter te koop aan.

Twee joernaliste het hulle toe as ’n ryk egpaar van Doebai voorgedoen en Rafiq, ’n arbeider wat sowat R26 per dag verdien, oorreed om saam met Rubina en ’n oom na ’n naburige hotel te gaan sodat hulle daar kon onderhandel.

Intussen het sy eks, die kind se ma, Khushi, hiervan uitgevind, ’n klag by die polisie ingedien en Rafiq is in hegtenis geneem. “Ek kon nie glo hy wou daarmee voortgaan nie,” sê die vrou wat, ironies genoeg, haar eie dogter verlaat het toe sy net twee jaar oud was.
Rafiq hou egter vol dat hy onskuldig is.

“Ek het gesê Rubina is gelukkig by my. Hulle het my ’n aanbod in Engels gemaak wat ek nie verstaan het nie,” het hy probeer verduidelik. “Toe sê hulle ek moet haar daar laat oornag en die volgende oggend kom haal. Ek het geweier.”

Maar die joernaliste sê die video-opname wat hulle gemaak het, vertel ’n ander storie: Rafiq se swaer Rajan More het glo die praatwerk gedoen en hul aanbod van R660 000 na ’n vet R2,6 miljoen verhoog met die boodskap: “Hierdie kind is spesiaal, dis ’n Oscar-kind.”

Die mans het ook gekla hulle het net R27 000 van die rolprentbase ontvang vir Rubina se rol in die fliek.

Lees die volledige artikel oor hierdie skokkende verhaal in Huisgenoot van 30 April.