
Sy was besorg oor menseregte, oor ons internasionale beeld. Toe spreek Barbara Hogan haar uit teen Suid-Afrika se weiering van ’n visum vir die Dalai Lama – die Tibettaanse doring in die vlees van China, ons groot ontwikkelingshoop.
Ons minister van gesondheid is gou veroordeel oor haar “openbare aanval op ’n regeringsbesluit”. Maar sy het ook ewe gou steun uit vele oorde ontvang.
En so ontaard die Tibet-China-kwessie wat so by die organiseerders van Beijing 2008 gespook het, toe in ’n groot verleentheid vir die gasheer van die Wêreld-beker-sokkertoernooi in 2010 . . . sonder dat Tibet se uitgeweke geestelike leier eens ’n voet hier gesit het om die vredeskonferensie by te woon.
Dié byt toe in elk geval in die stof in die golf van protes wat hier sowel as oral in die buiteland op die visum-weiering gevolg het.
Die regering was vermoedelik vies hieroor. Om enigiets teen die Dalai Lama te sê, is soos om Bambi plat te trek, het ons minister van finansies, Trevor Manuel, toe laat hoor. En toe nietemin korrel gevat: Die Dalai wil hier ’n groot politieke stelling oor Tibet se afstigting van China kom maak, maar ons kan dit nie nou toelaat nie.
Maar gerekende Suid-Afrikaners en menseregtegroepe het agterna kommer uitgespreek oor beginsels wat hier verloën word – dat Suid-Afrika, wat in sy vryheidstryd so swaar op die welwillendheid van buitelandse vriende gesteun het, nou nie tyd het vir ’n menseregteleier en vredemaker nie.
Intussen is gegis dat China Suid-Afrika onder druk geplaas het om die visum te weier, en dat ons regering uit vrees vir die gevolge van ongehoorsaamheid gespring het om daaraan gehoor te gee.
Maar waaroor is die owerhede so bekommerd? Wat sou Suid-Afrika dan kon verloor as ons China vervreem – die reus wat nou wêreldwyd beskou word as die groei-enjin wat wel kan verhinder dat die internasionale ekonomie heeltemal vasbrand?
Ons departement van buitelandse sake het intussen laat blyk die regering is nie deur China geboelie nie – maar China het hom in die openbaar uitgespreek oor sy ongelukkigheid oor die Dalai se voorgenome besoek.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 9 April.