Thursday, 16 April 2009

Die kaalvoetstapper


Die strand by Hole in the Wall in Transkei kom ’n man aangestap. Hy is sonverbrand, daar was maande laas ’n skeermes naby sy gesig en hy is kaalvoet. Die bestes onder ons sou dalk jammer voel vir hom en die res sou dalk ’n wye draai om hom loop. Maar as ons sou lees wat op Jaco Swart se vuil T-hemp staan, sou ons baie vrae gehad het. Dit lui: Kaalvoet om SA 2009.

‘‘Oom het mooi bene,’’ kom dit flirterig uit die groep Matie-studente by wie hy pas op hierdie mooi deel van die Wildekus verbygestap het. Jaco gaan staan.
Die groep het nou tot ’n dosyn aangegroei – ook mans wat lugtig en be-skermend teenoor die vroue is. ‘‘Ek kom ’n belofte na wat ek nege jaar gelede aan God gemaak het,” sê Jaco vol selfvertroue. ’n Koor van ‘‘Amen, halleluja’’ klink op.

Die studente luister geboei na sy verhaal van onderhandeling en pyn. ‘‘Ek het belowe ek sal kaalvoet om die land loop, maar ek het altyd ’n rede gekry om dit nie te doen nie.

‘‘Soms was dit geld of tyd, maar verskonings is altyd maklik om te vind,’’ herinner Jaco hulle voor hulle in ’n kringetjie bid. Daarna poseer hulle vir foto’s saam met die inspirerende ‘‘oom’’. Hy glimlag en flirt toe die meisies vra om saam met hom afgeneem te word.

Jaco wuif vriendelik toe die groep besield in hul motors en bakkies klim. Met die wind wat deur sy ruie hare en deurmekaar baard woel, lyk hy soos ’n romantiese held. En soos alle helde inspireer hy die mense wat op sy pad kom.

‘‘In my drie maande op die pad het ek met baie mense gepraat. En ek kry altyd die gevoel dat hulle geïnspireerd weggaan. Iets kliek in hulle, en hulle lyk meer passievol oor die dinge wat hulle weet hulle nog wil doen.’’

Nog oor hierdie stapper in Huisgenoot van 23 April.