
Gedink daar bestaan nie ’n resep vir ’n lang en gelukkige huwelik nie? Dink weer, want nou blyk dit daar is tog ’n manier om te voorspel of jou verhouding gaan werk of nie.
Britse en Amerikaanse wetenskaplikes het pas met ’n wiskundige model vorendag gekom wat pynlik korrek kan voorspel of ’n paartjie op ’n leeftyd van geluk afstuur, of op pad skeihof toe is.
In ’n studie van 700 pasgetroudes het prof. James Murray, ’n wiskundige van Oxford-universiteit, 94 persent akkuraat voorspel wie se huwelike gaan hou.
Die navorsingsprojek is 12 jaar gelede in Amerika begin toe onderhoude van 15 minute met elkeen van die pare gevoer is.
Die paartjies moes 15 minute lank met mekaar gesels oor onderwerpe waaroor hulle al tevore kop gestamp het, soos geld, seks of skoonouers. Hul gesprekke is verfilm. ’n Span navorsers het die video’s be-studeer en aan elke stelling van die betrokke egpaar ’n punt toegeken.
’n Man en vrou sou positiewe punte kry as hulle in ’n warm stemtoon kommunikeer, as hulle humor gebruik het of liefdevolle liggaamstaal openbaar het. Hulle het negatiewe punte gekry vir woede, kilheid, sarkasme of ’n gebaar soos oë-rollery.
Elke paartjie se puntetelling is deur ’n wiskundige formule verwerk om die onderliggende karaktereienskappe van elke deelnemer bloot te lê.
James en sy span navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die oorgrote meerderheid egpare in vyf hoofgroepe val: twee stabiel, twee onstabiel en een tussenin.
In die stabiele groep val eerstens mense met ’n verhouding van onderskraging waarin albei maats kalm is, gemaklik intiem kan wees en mekaar ondersteun. Hulle verkies gedeelde ervarings pleks van individualiteit.
Die tweede soort paartjie in dié groep is die vermyders: Albei doen hul bes om konflik en konfrontasie te vermy en meestal net positief op mekaar te reageer.
Hierdie twee kategorieë word as stabiel beskou, en pare wat so optree, het die beste kans op sukses.
Derdens is daar die verhouding van opvlieëndheid waar-in albei romanties en passievol is en dikwels stry en mekaar ongelukkig maak. So ’n verhouding kan enige kant toe oorhel, het die navorsers bevind.
Lees meer oor dié toets in Huisgenoot van 16 April