
Sulke verhoudings ontvou gewoonlik net in storieboeke en flieks waar jy ná die laaste toneel weer in ware liefde glo.
Dis amper te romanties om waar te wees: ’n Man en ’n meisie soen mekaar kort ná hul eerste ontmoeting en stap daarna 10 jaar lank draaie om mekaar. Ná verskeie mislukte pogings om mekaar te vergeet, kruis hul paaie weer. En net daar besluit die twee: Dis sinloos om teen die noodlot te stry.
So gebeur dit toe dat die akteur Stian Bam, oftewel 7de Laan se aantreklike rokjagter Dawid Greeff, skaars ’n maand ná sy herontmoeting met die Stellen-bosse juweliersontwerper Truda Serfontein voor die kansel belowe: ‘‘Vir jou sal ek vir altyd liefhê.’’
Want toe Stian (31) in Januarie weer vir Truda (29) op Stellenbosch gaan kuier, het hy besef: ‘‘Ons is al van voor die begin van die wêreld vir mekaar bedoel.
‘‘Dit was asof ons vir die eerste keer regtig eerlik met mekaar en met onsself kon wees. Toe sê ek vir Truda: ‘Kom ons trou; skryf neer wie jy almal wil nooi,’ ’’ sê die donkerkop-akteur kort ná die groot dag op 28 Maart.
‘‘Deur die jare het ons nog elke keer van voor af op mekaar verlief geraak wanneer ons mekaar weer sien,’’ sê Truda met ’n skamerige laggie.
‘‘Dis asof ons nog altyd in ’n verhouding was,’’ begin Stian. ‘‘Maar jy het net in ’n stadium vergeet om dit vir my te sê!’’ sê Truda laggend. Sy kuier vlugtig in Johan-nesburg by Stian voor sy terugkeer Stellenbosch toe, waar die twee nou nesgeskop het.
Sy kontrak met 7de Laan is onlangs hernu en hy moet nog ’n ruk in Gauteng bly, terwyl Truda teruggaan Kaap toe na haar juweliersaak. Maar die twee skrik nie vir die langafstand-huwelik wat wag nie.
“Noudat ons getroud is, sal ons nooit weer regtig alleen wees nie,’’ sê Stian.
“Hy wou nog altyd vir my sorg en my beskerm, en ek wil die-selfde vir hom doen. Maar ek bekommer my nie oor hom nie – hy kan self kook, was en stryk,’’ sê Truda laggend.
‘‘Ek het hom maar uitgelos tot hy dié dinge self leer doen het!’’
Lees die volledige artikel oor hierdie romantiese liefde in Huisgenoot van 30 April.