
Daar is tiere op die beddegoed en prentjies van diere oral teen die mure, maar Fluffy het nog sy ereplekkie op Hanco Viljoen (16) se bed. Fluffy is die bruin teddiebeer wat Hanco met elke chemoterapie-sessie styf in sy arms vasgeklem het toe hy nog dapper teen die kanker gestry het.
Dit is in dié kamer, op die dag ná Nuwejaar, dat die seun van Kempton Park sy laaste asem uitgeblaas het.
Hanco, die seun wat Huisgenoot-lesers leer ken het nadat hy vir derduisende ander siek kinders troos gebring het met sy teddiebeer-veldtog, het ná net meer as drie jaar sy stryd teen kanker verloor.
Dit was Fluffy wat alles begin het. Hanco was so dankbaar vir die troos wat sy sagte maatjie in pynlike oomblikke gebied het dat hy ander siek kinders ook so wou troos. So het hy teddiebere begin insamel en in hospitale uitgedeel. Nadat hy vertel het van sy teddiebeer-projek (Soen dit beter met ’n teddie, 16 Februarie 2006) het die speelgoed begin instroom.
Sy verhaal het mense so aangegryp dat hy binne ses maande 100 000 teddiebere gehad het. In sy kort leeftyd het hy meer as 110 000 siek kinders se harte verbly.
In die Viljoens se sitkamer staan ’n lewensgrootte foto van Hanco. Hier en daar is nog ’n teddiebeer te sien, maar Marinda en Hendrik en sy broer, Morné (15), sal nooit die tyd vergeet toe teddiebere hul huis oorge-neem het nie.
‘‘Daar was op ’n slag seker 50 000 in hierdie huis,’’ vertel Hendrik laggend. ‘‘Van die voordeur tot by die agterdeur, tot bo teen die plafon.’’
Maar wanneer jy vra oor hoe hulle Hanco sal onthou, word Marinda stil. ‘‘Hy het ’n groot hart gehad, altyd eerste aan ander gedink,’’ sê sy. Hanco het nooit toegelaat dat die kanker hom van enigiets weerhou nie. Hy sou vanjaar in gr. 11 aan die Hoërskool Kempton Park gewees het, en ook op die leerlingraad.
By die skool se prysuitdeling in Februarie het hy volle akademiese erekleure gekry en is hy aangewys as beste wiskundekandidaat.
Lees hierdie inspirerende verhaal in Huisgenoot van 9 April.