Friday, 12 June 2009

Vrou praat oor haar lugramp-man


Die eerste teken van onraad was ’n oproep uit Duitsland, kort ná agtuur die Maandagoggend van 1 Junie. Alet Heine (37) was in Rio de Janeiro in Brasilië besig om haar drie dogtertjies te help regmaak vir skool toe ’n vriendin bel. Dit was die kinderoppasser met wie sy vroeër bevriend geraak het terwyl haar man, Erich (41), in Duitsland gewerk het.

‘‘Sy het op die nuus gehoor ’n vliegtuig van Air France het van die radar verdwyn en sy was bekommerd omdat sy geweet het Erich is op pad na Europa,’’ vertel Alet.

Haar eerste reaksie was om Erich te bel. Sy foon het een keer gelui en toe oorgeskakel na sy antwoordpos. Alet het ’n boodskap gelos en sy kantoor in Duitsland gebel om te hoor of hy hulle dalk gekontak het. ‘‘Ek het sy sekretaresse gebel en ander kollegas by ThyssenKrupp, maar die fone het net gelui. Ek het onrustig geraak.’’

Sy het die TV aangesit en moes haar staal om nie histeries te raak nie. ‘‘Ek het gedink net omdat daar geen kontak met die vliegtuig is nie, beteken nie dit het geval nie. Dit het dalk op ’n afgeleë plek ’n noodlanding gedoen . . . ’’

Toe klop ’n personeelbeampte van ThyssenKrupp aan die deur en vertel Alet dat Erich saam met 227 ander passasiers van Air France se vlug 447 amptelik vermis word en waar-skynlik dood is. Die maatskappy het onmiddellik gereël dat haar ouers, Eben en Elsabé Jansen van Rensburg, uit Suid-Afrika vlieg om hul dogter te ondersteun.

Eers ’n week later het die besef ingesink dat sy nooit weer haar liefdevolle Erich sal sien nie. En steeds wil die laaste flonkering van hoop in haar hart maar net nie sterf nie.

‘‘Toe ek gister op TV sien hoe ’n stuk vlerk uit die see gehaal word en vandag hoor 41 lyke is al gevind, was dit soos ’n dolk in my hart,’’ sê sy uit Rio.

Lees haar hartroerende brief aan Erich in Huisgenoot van 18 Junie.