Thursday, 25 June 2009

KOSPRYSE


Kospryse. Dis amper ’n woord wat ’n mens deesdae nie meer voor die kinders mag gebruik nie. In 2007 het kos al aansienlik duurder begin word. Verlede jaar was dit behoorlik nag.

En net toe dit lyk asof internasionale ekonomiese toestande tot laer pryse kan lei, gebeur daar . . . wel, omtrent niks. Brandstof is goedkoper. Verskepingskoste het omtrent deur die seebodem geval. En hier by ons het boere ál minder begin kry vir hul produkte – vir koring, sonneblomsaad, mielies, melk, noem maar op.

Maar daardie rakpryse wil in te veel gevalle maar net nie saam ondertoe nie. En erger nog, dikwels styg die kospryse steeds. G’n wonder verbruikers word ál ongeduldiger nie.

Maar waarom het kospryse so skerp gestyg en waar lê die vertraging met die prysdalings? Waarom is kos-inflasie volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste syfers steeds meer as 50 persent hoër as die algemene inflasiesyfer? En kan ons dalk, net dalk, vorentoe verligting verwag?

Verlede jaar het kospryse met gemiddeld 16 persent gestyg. Teen April vanjaar, met die inflasiekoers reeds af na 8,4 persent, was kos steeds byna 14 persent duurder as ’n jaar tevore. Vir veral armer mense is kos hul heel grootste uitgawe. En kos is ook die grootste enkele faktor in die algemene inflasiesyfer. Neem die styging in kos-pryse dus drasties af, daal die algemene inflasiesyfer stewig saam.Maar dit gebeur ongelukkig nie . . .

SSA vertel vir ons brood en graankosse was in April byna 18 persent duurder as ’n jaar gelede. Maar die prys wat die boer vir sy graan gekry het, het in dieselfde tyd met meer as 15 persent gedaal. Is dit toevallig dat daar juis nou weer ’n ondersoek na kartelvorming in die broodbedryf aan die gang is?

Die oliemense het die ding wel reggekry. Terwyl die prys van oliesade soos sonneblomsaad met 36 persent gedaal het, is die prys van die bottel op die rak darem byna 10 persent laer. Op die winkelrak is suiker, lekkers en nage-regte meer as 16 persent duurder, en vleis 10 persent.

Lees die volledige artikel Huisgenoot van 2 Julie.