
Sy het hoeveel keer gesê sy stel nie belang nie, maar hy wou nie hoor nie. Daar was die alewige oproepe, die SMS’e wat maar net nie wou ophou nie . . .
Erin van Rensburg (20) moes oplaas verlede jaar haar selfoonmaatskappy vra om sy oproepe te blokkeer.
Toe, op 3 Junie, word dié Matie-student se lyk in ’n sandgraf in Elandsbaai aan die Weskus ontdek (Jacobus, die slim, skugter bleeksiel, 18 Junie).
Kan dit wees dat haar mede-student Jacobus Eksteen (24) se obsessie met die pragtige brunet tot haar dood gelei het? Baie vroue wat al onder ’n lastige bewonderaar deurgeloop het, vra nou dié kommerwekkende vraag: Wanneer is sulke gedrag bloot hinderlike oorywerigheid, en wanneer word iemand ’n bekruiper?
Kry jy enige tyd, dag of nag, oproepe? Dalk oproepe waar iemand net luister en die foon neersit? Of het julle al maande gelede uitgemaak, maar elke dag klokslag kom die SMS: ‘‘Ek is steeds lief vir jou . . . ’’?
Sulke gedrag is tipies van bekruipers, sê kenners. Hulle glo hulle moet net volhou, want jy sal hulle wel leer liefkry. Of eendag sal jy die lig sien en hulle wil leer ken. Sielkundiges glo die bekruiperverskynsel neem toe omdat selfone en die internet dit vir dié mense soveel makliker maak. Nuwe wetgewing hieroor dien juis nou binnekort voor die parlement.
Bekruipers kan jou dophou, teister, dreig of fisiek aanrand en in sekere gevalle selfs doodmaak, sê dr. Micki Pistorius, ’n sielkundige van Pretoria. Daarom kort ons ’n wet spesifiek teen bekruiping, met behoorlike strawwe, skryf die bekende forensiese sielkundige in haar boek Profiling Serial Killers and Other Crimes in SA.
Ons stel ’n paar vrae oor die bekruiper-verskynsel in Huisgenoot van 25 Junie.