
Terwyl sy ma sy klere en asmapompie in sy oornag-sakkie pak, het die donkerkop-seuntjie gesmeek: ‘‘Mamma, ek wil nie die naweek na Pappa toe gaan nie.’’ Hy’t nog siek gevoel van sy chroniese asma wat hom twee weke lank uit die kleuterskool gehou het en wou eerder by die huis by sy swanger ma en ongebore boetie bly.
Klein SJ Kruger (4) was so opgewonde oor sy kleinboet se koms, hy’t al die slapies getel tot die geboorte in November en solank van sy speelgoed vir sy nuwe maatjie weggebêre. Vroegoggend voor sy pa hom sou kom haal om die naweek by hom te gaan kuier, het hy sy ma nog gevra: ‘‘Mamma, belowe my ek sal die baba ook kan bad? Ek wil alles vir Boeta doen.’’
En toe’t hy vir sy ma, wat sedert haar egskeiding in 2006 weer getroud en vier maande swanger is met haar tweede kind, gesê: ‘‘Ek wil nie die naweek weggaan nie.’’
Maar Liezl Nortjé-Jansen (28) het haar eersteling sagkens gepaai: ‘‘Ag toe, dit gaan lekker wees. Jy gaan lekker met jou maatjies speel en lekker by Pappa kuier.’’
Ná jare se argumente het Liezl en haar eksman, Sarel Kruger (29), uiteindelik ’n verstandhouding gehad oor wat die beste vir SJ sou wees, en sy het geredelik toegelaat dat SJ Woensdae en elke tweede naweek vir haar eks gaan kuier. Haar enigste voorwaarde? ‘‘Asseblief, moenie in die winter met die kind gaan kampeer nie.’’
SJ het weens sy asma kort-kort in die winter siek geraak en sy longe was weerloos teen die koue aandlug. Liezl se grootste vrees was dat hy op so ’n uitstappie langs die viswaters sou siek raak . . . Sy sou nooit kon dink dat Sarel tog hul bekkige bruinoog-woelwater teen haar wil en sonder haar wete sou neem om in die snerpende winterweer te gaan kampeer nie.
En hoe moes sy weet dit sou die laaste keer wees dat sy haar seuntjie sou sien?
Lees in Huisgenoot van 2 Julie oor die tragiese gebeure en ook hoe jy gas veilig kan gebruik.