
Dis net ná agtuur op ’n weekaand en oudergewoonte speel haar aantreklike seun rekenaarspeletjies in sy slaapkamer. Hy is besonder vrolik vandag, want net ’n paar uur tevore het hy gehoor hy het ’n werkkontrak vir ses maande losgeslaan. Skielik hoor Yvonne Hoffmann ’n harde slag. Sy hardloop na haar seun se kamer. Wikus Berning (18) lê doodstil op sy maag.
Eers dink Yvonne hy maak ’n grap, maar toe sy hom omdraai, sien sy sy gesig is potblou. ’n Entjie van hom lê ’n blikkie brandstof vir sigaretaanstekers – butaangas. Yvonne besef dadelik wat gebeur het. Sy het hom drie maande tevore betrap toe hy giggelend op sy bed sit en butaangas snuif om homself te bedwelm. Nou het hy dit klaarblyklik weer gedoen. Hy het haar belowe hy sal dit nooit weer doen nie, maar nou het Wikus se verbreekte belofte hom sy lewe gekos.
Hy het op 26 Mei ’n massiewe hartaanval en beroerte gehad nadat hy weer van die dodelik gas gesnuif het. Sy hart was soos dié van ’n tagtigjarige man en het ’n paar dae later in die hospitaal ingegee. Sedertdien worstel Wikus se gebroke ouers met die vraag waarop daar eintlik geen antwoord is nie: Waarom moes hul pragtige seun, wie se lewe voor hom uitgestrek het, so onnodig sterf?
In ’n huis in Kempton Park probeer Wikus se mense op ’n triestige winterdag sin maak van sy dood.‘‘Ek het tot die einde gehoop dit was nie butaangas wat hy gesnuif het nie. My seun het nooit dwelms gebruik nie. Ek het wel geweet hy rook,’’ vertel Victor Berning, Wikus se pa. Hy sit ineengekrimp op die rusbank en snik terwyl hy oor sy seun praat.
‘‘Ek het hom vroeër die dag nog gesien. Hy was so gelukkig, want voorheen het hy net ’n tydelike pos by Pick n Pay in Edenvale gehad, maar hy het toe pas ’n kontrak vir ses maande as ’n administratiewe klerk gekry.’’
Meer oor die gevaarlike speletjies wat jongmense speel in Huisgenoot van 25 Junie.