Friday, 05 June 2009

Proefskeiding is goeie opsie


In Hoeveel huwelike gaan dit nie so nie: Daar is die alewige probleme, die rusies en trane – maar die woord skei is darem so vreeslik finaal. Dit is heel moontlik waar Angelina Jolie en Brad Pitt hulle nou in hul ver-houding bevind, te oordeel na die jongste nuus oor die glanspaar. Hulle is ongelukkig, hulle sit gedurig vas (Klug op die rooi tapyt, 4 Junie), maar vaarwel bly steeds ’n te groot woord.

Die paartjie is nou op ’n proefskeiding van vier maande, verklap bronne, ’n uitweg wat baie paartjies neem om te sien of die tyd weg van mekaar af weer nuwe lewe in hul verhouding kan blaas.

Maar werk dit? Soms, sê kenners. Ten spyte van moontlike slaggate, soos dat hulle nog verder uitmekaardryf of iemand anders ontmoet, kan paartjies wat so ’n skeiding reg aanpak, dalk wel hul huwelik daardeur red.

’n Proefskeiding is ’n goeie idee vir paartjies wat voel hulle versmoor mekaar, as daar potensiaal vir geweld is of as een party ’n buite-egtelike verhouding het en daar te veel woede is om te hanteer, sê Daleen van Staden van die Familie- en Huweliksvereniging van Suid-Afrika (Famsa).

‘‘Dit is ook ’n goeie idee as jy nie jou verhouding wil prysgee nie, maar ook nie so wil aangaan nie,’’ sê Jaci Henry, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg.

‘‘Paartjies bly basies ’n tyd lank van mekaar af weg en skep so die fisieke en emosionele ruimte om besluite te kan neem sonder om die eise van die alledaagse probleme te moet hanteer,’’ sê Daleen.

Dalk besluit hulle tog om te skei, maar ten minste is daar die voordeel dat hulle dit wel nog ’n kans gegee het, en die redes vir so ’n groot stap en ook die implikasies daarvan verstaan.

Dit is wat elke paartjie moet oorweeg voor hulle besluit om ’n proef-skeiding aan te pak. Om vir ’n tyd weg van mekaar af te wees ná jare saam, kan jou nuwe perspektief op jouself en jou maat gee.

Die voor- en nadele van proefskeiding word bekyk in hierdie artikel in Huisgenoot van 11 Junie.