Thursday, 25 June 2009

’n DOWNSIE VIR EERSTES


Dit is pouse by die Lettie Fouché-skool vir Gestremdes net buite Bloemfontein. Kleingoed wemel die speel-terrein vol, elkeen besig met sy eie ding, en elkeen luidkeels gillend op juffrou om tog net na hul kant toe te kyk.

Daar is ’n oorverdowende lawaai, maar juffrou Sheri Brynard (27) lyk heeltemal ongesteurd. Doodrustig gee sy vir elkeen ’n oomblik van haar tyd. Sy verstaan hulle immers maar te goed – sy is self met Downsindroom gebore.

So 24 jaar gelede was sy self hier op kleuterskool. Maar net agt maande later was sy weer vort, want ma Susette het toe al geweet haar hemelkind is vir groot hoogtes bestem. Van toe af was Sheri in soveel eerstes: die eerste Down-kind in die Martie du Plessis-skool vir Serebraal Gestremdes in Bloemfontein, die eerste wat daar aan die Motheo- Tegniese Kollege gestudeer het en toe ook die heel eerste Down-kind in die land wat ’n nasionale diploma verwerf het om ’n assistent-onderwyser by ’n kleuterskool te word.

En al het hierdie dinge baie deursettingvermoë geverg, het Sheri nooit moedeloos geraak nie. Eintlik het sy dit vreeslik geniet om hard te werk, bely sy. Vandag is sy baie bly sy het deurgedruk, want daarmee het sy haar heel grootste droom verwesenlik: om iets vir kinders te beteken.

Susette en wyle Jerry, Sheri se pa, die voormalige skakeldirekteur van die Universiteit van die Vrystaat, het van die dag van haar geboorte besluit hulle sal Sheri soos ’n ‘‘normale” kind grootmaak. Twee jaar later is haar kleinsus, Marisa Steyn (nou 25), gebore, en Susette het die twee dogtertjies soos ’n tweeling aangetrek sodat niemand sal dink sy trek een van haar kinders voor nie, vertel die trotse ma in hul ruim huis op ’n koppie in Bloemfontein.

Marisa het wel gou onder Sheri uitgegroei sodat sy soos die kleinsus gelyk het, en waar sy oorkant haar ma op die bruin leerbank sit, is sy steeds ’n fyngeboude vroutjie.
Sy oefen gereeld en eet gesond, want Downsies, soos sy Down-mense noem, is geneig om maklik gewig op te tel.

Lees meer oor hierdie merkwaardige vrou in Huisgenoot van 2 Julie.