Friday, 12 June 2009

Dodelike soektog na rykdom


Dit het alles begin met ’n telefoonoproep na die oppervlak by ’n skag van Harmony se Eland-myn net buite Welkom. ‘‘Baie mense is dood,’’ het die stem gesê. ‘‘Ons het lyksakke nodig by Eland nommer 8 – dis waar die brand is.’’

Dit was ’n zama-zama – een van die onwettige mynwerkers wat diep in die buik van die aarde ingrawe op soek na goud. En die man wat die oproep gemaak het, moes desperaat gewees het.

Zama-zamas vra selde hulp. Hul stemme word selde gehoor en hulle wys nie hul gesigte nie. Maar nou was die situasie beroerd.

Giftige rook en dodelike gasse was besig om die doolhof van ondergrondse tonnels tussen die mynskagte in ’n grafkelder te verander.

Op die oppervlak het ’n reddingspan onmiddellik aan die werk gespring. Die mynbestuurder het alle beskikbare lyksakke in die ongebruikte myn laat afsak. Toe die reddingswerkers die eerste lyke bereik, het die oorlewende zama-zamas reeds soos spoke in die pikdonker gange verdwyn.

In die dae daarna is lyk ná lyk na die oppervlak gebring. By Welkom se lykshuis het familielede met lappe voor hul gesig die reuk van ontbindende vlees probeer afweer terwyl hulle gewag het om hul mense uit te ken.

Later het hartseer in woede begin omsit. ’n Lang, skraal man het met ’n jongman en ’n ouerige vrou in ’n Basotho-kombers begin stry. ‘‘Sê vir ons, sê vir ons!’’ het die vrou geskree.

Nadat sy en die jongman weg is, gaan gesels ons met die lang man. Eers bly hy wegkyk en is hy traag om te praat – maar toe hy wel oopmaak, vertel hy ’n ysingwekkende verhaal van ’n bestaan waar die lokstem van goud meer beteken as die lewe self.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 18 Junie.