
Ek kan my kinders nie meer gee wat hulle wil hê nie. Ek moet aanhou nee sê; hulle kan nie net ’n jogurt of vrugtesap uit die yskas gryp wanneer hulle wil nie. Ek kan nie vir hulle sê ‘gaan help julself’ nie.’’
Aan die woord is ’n jong ouer wat saam met ’n menigte ander Suid-Afrikaners hart skoongemaak het in die grootste peiling tot dusver oor die invloed van die ekonomiese afswaai op verbruikers – die afswaai wat nou amptelik ’n resessie geword het. Ander trek selfs nog swaarder, blyk uit dié insiggewende studie van UCT Unilever Institute.
‘‘In die ou dae was daar ubuntu, maar nou kan ons dit nie bekostig nie. Ek vrees ongenooide gaste, want ek kan nie vir hulle kos of koffie gee nie,’’ sê iemand in die sukkelende groep – een van ses kategorieë verbruikers wie se ondervinding van die resessie deur die Universiteit van Kaapstad nagevors is.
Die groepe is ingedeel volgens LSM’e (Living Standards Measure), ’n skaal van een tot tien wat Suid-Afrikaners se lewenspeil aandui. ‘‘Veral die sukkelendes in die LSM 5-7-groepe is die afgelope ses tot agt maande baie hard getref,’’ sê prof. John Simpson, direkteur van die instituut. ‘‘Dié segment, waar baie mense skuld het en waarskynlik minder geskool is, word die kwaaiste getref. Hulle probeer bloot oorleef.’’
Maar 60 persent van al die deelnemers was bekommerd oor die toekoms. En hoewel 78 persent se inkomste nie in die afgelope ses maande verminder het nie, bestee omtrent ewe veel nou versigtiger.
‘‘Die meeste verbruikers is baie versigtig, ook wat betref hul inkope,’’ sê John. ‘‘Selfs ook diegene wat nie hoef te wees nie. Dis dikwels meer sielkundig. Meer as 70 persent van al die mense glo die resessie gaan ’n lang ruk duur en vererger.’’
Hy vertel van ’n video-onderhoud met ’n haarsalon-assistent, ’n sukkelende ma. Haar man kon vir die eerste keer in 16 jaar nie vir haar ’n Moedersdaggeskenk koop nie. Hul kinders kry ook nie meer geskenke nie, hulle eet nie meer een keer per maand uit nie en nooi nie meer maklik mense oor nie.
Kyk in watter kategorie jy val in Huisgenoot van 11 Junie.