Thursday, 03 September 2009

Kovsies se Moses oor sy ideale


Hy sit op die stoep buite die studentekantoor van die Universiteit van die Vrystaat in jeans en tekkies met ’n rooi T-hemp onder sy swart baadjie. Sy selfoon lui aanmekaar. Nog mense wens hom geluk; nog joernaliste vra sy kommentaar. Want hy het oornag bekend geword as die eerste swart studenteraadsvoorsitter by Kovsies. Maar so wil Moses Masitha (22) dit nie hê nie.

“Ek wil onthou word vir wat ek tydens my termyn vir die studente beteken het, vir dit wat ek gedoen het; ras is nie veronderstel om hier ’n rol te speel nie,” sê hy.

En die sogenaamde Reitz-debakel van ’n paar jaar gelede? “Kyk, dis jammer dat dit gebeur het. Maar ons kan nie bly vasval in die verlede nie; ons moet aanbeweeg en kyk na vandag en môre.”

Dan vertel hy van die Vrydag toe die uitslae van die Studenteraadsverkiesing bekendgemaak is. Dit was vir hom ’n groot oomblik. Soms het hy getwyfel, maar toe dit op stemdag vir ’n kort rukkie gesneeu het, het hy sommer geweet hulle gaan wen.

Dit was ’n emosionele verkiesing. “Jy kon die spanning en die emosies aanvoel toe die uitslae bekendgemaak is. Ons het hier gestaan; die studente het voor ons saamgedrom, daar,” wys hy. “Die afwagting in die lug kan ’n mens nie in woorde beskryf nie.”

Dit was ’n naelskraapse oorwinning vir Sasco (South African Students’ Congress), wat 48 persent van die stemme ontvang het teenoor die VF+ Kovsies se 43 persent. Die studente was in twee groepe verdeel: Die een groep het hul oorwinning met dreunsang gevier en in die ander groep het studente in trane uitgebars en verslae omgedraai en weggestap.

Maar hy verstaan dit, sê Moses. Want om te huil as jy verloor het, is deel van menswees. “Enige kompetisie is intens; dit is emosioneel. Dit is oral so – in sport, in politiek, met enige verkiesing. Wanneer jy verloor, ervaar jy ’n gevoel van verlies. Dit is natuurlik.”

Lees meer oor die jong man se ideale in Huisgenoot van 10 September.