Friday, 11 September 2009

Vanilla vir altyd by ons


Dit was ’n tragedie wat die land geruk en elke ouer yskoud laat word het. ’n Skattige blondekop-meisietjie het op haar tweede verjaardag in die gesin se motor verbrand toe sy ’n rukkie slapend in haar sitstoeltjie agtergelaat is terwyl haar ma die inkopies die huis ingedra het en haar pa ballonne opgeblaas het.

Die vrolike gesin het ’n paar minute vroeër op die lieflike lentedag by hul huis langs die Kaapse kus stilgehou met al die lekkernye wat hulle vir hul eersteling se verjaardagpartytjie later die middag gekoop het. Pa Justin Nurse (32), die satirikus van Laugh It Off, het net begin ballonne opblaas toe hy en ma Camilla Colley (28) die skril alarm hoor. Sy het buitentoe gestorm, net betyds om te sien hoe hul swart Honda Jazz aan die brand slaan. Camilla het verwoed deur die vlamme gedring om klein Vanilla uit haar stoeltjie los te kry en haar in veiligheid te bring.

“Sy’s dood! Sy’s dood!” het Camilla gegil toe Justin op haar afkom, nog vol rook van die vlamme waardeur sy gebeur het. Sy het hul engeltjie in haar arms vasgehou met haar gesiggie amper onherkenbaar verbrand. Justin se gedagtes was in ’n warboel. Hy het hul ses maande oue babadogtertjie, Willow, gegryp en in sy bakkie gespring om hospitaal toe te jaag. Camilla het agter gesit met Vanilla en haar met mond-tot-mond-asemhaling probeer red. Sy was skaars bewus van die brandpyn in haar eie liggaam van die ligte brandwonde wat sy opgedoen het terwyl sy haar oudste probeer red het.

As hulle tog net vinniger kon ry, net gouer by die hospitaal kon kom . . . Oomblikke het soos ’n ewigheid gevoel. As hul kleintjie net kon uithou . . . Sy het nog bly hoop toe hulle by die noodgevalle-afdeling van die Valsbaai-hospitaal instorm. Maar die harde werklikheid het tot hulle deurgedring toe hulle haar magteloos op die hospitaalbed omhels en die ergste hoor. Dit was te laat . . .

Daardie oggend het so wonderlik begin toe sy presentjies oopgemaak het en almal uitgesien het om haar op haar nuwe trampolien te sien spring.

Kenners gee raad om fratsongelukke soos hierdie te voorkom in Huisgenoot van 17 September.