
Nog voor sy die spreekwoordelike Bybel van Afrikaanse musiek geskryf het, was die joernalis Ilza Roggeband al ’n wandelende ensiklopedie van kennis oor die bedryf. En noudat 50 Stemme – die Grootste Name in Afrikaanse Musiek die lig gesien het, sal sy waarskynlik enige Noot vir Noot-kampioen kan laat les opsê.
Maar al gloei sy van trots oor haar lywige pennevrug, is sy vandag ietwat ongemaklik. Want sien, die skoen is skielik aan die ander voet. ‘‘Gits, dit voel aardig dat iemand anders die vrawerk doen,’’ lag sy verleë toe sy ons by haar gesellige huis in Melkbosstrand verwelkom. In die 20 jaar sedert sy met ’n ompad in die joernalistiek beland het, het Huisgenoot se eertydse vermaakskrywer al baie meer as 1 000 onderhoude gevoer. Jy sal ver soek na ’n Afrikaanse sanger wat nie al op die een of ander manier met die blondine met die op en wakker oë te doen gekry het nie. Die hoogtepunte in haar loopbaan het alles met musiek te doen – op kunstefeeste was sy as organiseerder jare lank sinoniem met die Huisgenoottent. ‘‘Vra vir Ilza’’ was die towerstaffie wat alles laat gebeur het.
Van die eerste Skouspel by Sun City 10 jaar gelede was sy ’n onmisbare skakel in die ratwerk van die land se grootste en gewildste musiekkonsert. Die Tempo-musiekblaaie wat sy vir Huisgenoot behartig het tot sy twee jaar gelede vryskutskrywer en bemarkingsagent geword het, het intussen tot ’n volwaardige tydskrif gegroei. Die honderde CD’s wat haar studeerkamer dakhoogte vol staan, bewys dat Ilza se werk oor die jare ook haar lewe geword het. En nou is al dié passie en kennis netjies in ’n boek vervat.
Terwyl sy haar sewejarige woelwater, Zac, ’n spookkostuum uit ’n ou handdoek help maak, verneem Ilza oor die wel en wee van oudkollegas. Sy is weg by Huisgenoot sodat sy as enkelouer meer tyd saam met haar seunskind kon deurbring en sy geniet dit gate uit.
Volledige artikel in Huisgenoot van 24 September.