Friday, 11 September 2009

Huishulp kry niks uit testament nie


’n intrige so reg uit ’n sepie: ’n Bejaarde wewenaar besluit skielik om met die huiswerker te trou wat hom al jare lank versorg. Sy familie protesteer en doen regstappe om hom te keer, want hulle vermoed sy brein is nie meer helder genoeg om te weet wat hy doen nie. Boonop glo hulle sy ongeskoolde huiswerker is besig om hom willens en wetens by ’n huwelik in te boelie.

Maar ten spyte van ’n interdik gaan die troue voort en enkele dae later word sy testament verander sodat sy nuwe vrou al erfgenaam van sy boedel van etlike miljoene rande is. Wanneer hy drie maande later sterf, erf sy kinders en kleinkinders geen sent nie. Hulle dagvaar sy weduwee en ’n jaar later verklaar die hof die testament én die huwelik nietig.

Maar hartseer genoeg is dit geen TV-sage nie, maar die waarheid. Hierdie ingewikkelde drama het die afgelope twee jaar in Kaapstad afgespeel en die rusie wat al voor die 95-jarige Cecil Finneran se dood begin het, woed steeds voort. Die strydende partye beskuldig mekaar oor en weer van gierigheid en liefdeloosheid. Cecil se seun Lionel en sy kleinseun Anton het volgehou Patricia (61) het wederregtelik met hul pa en oupa getrou. Op haar beurt het sy die hof probeer oortuig sy het deurentyd net Cecil se belange op die hart gedra.

Sy weduwee wil nou appèl aanteken. Sy hou vol sy is die onskuldige slagoffer van omstandighede en nie die Finnerans nie.

Patricia is ’n verwese figuurtjie waar sy in haar suster se huis in Parowvallei ’n tydelike heenkome gevind het. Cecil se familie het haar belet om weer haar voete in sy huis te sit. Toe sy ná sy dood op 2 Mei verlede jaar haar besittings in Seepunt wou gaan haal, was die slotte klaar verander en ’n veiligheidswag het haar daar weggejaag. Sy het niks van hierdie moeilikheid loop soek nie, sê sy nou in ’n fluisterstem. ‘‘Ek het Cecil beloof om by hom te bly tot die dag dat hy sterf en ek het dit gedoen.”

Lees meer oor die hofsaak in Huisgenoot van 17 September.