
As ’n boer 10 dae lank landuit was, kan hy nie wag om terug te kom op die plaas nie. Maar so haastig was Johann van Boer Soek ’n Vrou-faam darem nie na sy plaas by Standerton dat hy nie eers ’n draai in Pretoria gaan maak het nie. Dis mos waar Stella Zwiegers woon, die blonde meisie wat as buiteperd die resies na sy hart gewen het.
En dis ’n sagte hart wat in dié sterk boer se borskas klop. Dit was nie maklik om Kitty van Zyl en Tharine Smith, wat tot laaste op sy plaas gebly het, huis toe te stuur nie. Met hulle het hy oop kaarte gespeel dat hy nie een van hulle gaan kies nie, want hy het iemand anders ontmoet. Tog het hy gesukkel om sy emosies te beheer en die trane het gevloei toe hy moes groet.
Dit is juis dié toneeltjie in die tweede reeks van Boer Soek ’n Vrou op kykNET wat kykers en bloggers op die internet aan die gons het. Hulle sê dit was vals en beskuldig hom dat hy skynheilig is en net ’n gelowige gesiggie opsit. Die kommentaar is blatant beledigend, sê Johann (30). En al erken hy dit nie maklik nie, kwets dit dié ou met sy klein hartjie.
Anders as wat kykers nou dink, het hy niemand bedrieg of om die bos gelei nie. En dit is beslis ook nie waarom hy hartseer geraak het toe hy die meisies huis toe gestuur het nie. “Ek het self drie sussies en weet wat vir ’n vrou sleg is. Ek het die meisies regtig op die hande gedra en regdeur die reeks soos vroue laat voel. Ek wou nie hê hulle moes verwerp voel nie.”
Gelukkig is die meeste Boer-verslaafdes baie gaaf, sê Johann. “Op die lughawe het iemand my nou weer voorgekeer en gevra of ek darem al ’n vrou gekry het,” lag hy. Dit is skaars 16 uur nadat sy vlug van Amerika in Johannesburg geland het. Hy is nog effens deur die blare, maak hy galant verskoning.
Pragfoto’s en die volledige artikel in Huisgenoot van 1 Oktober.