Thursday, 03 September 2009

Onnies geskiet op skool


Hulle was skoolmaats, die oudste seuns van twee onderwysers wat saam by Welkom-Gimnasium skoolgehou het en wie se gesinne oor en weer gekuier het en selfs saam vakansie gehou het. En nou moet hulle albei die dood van hul pa’s verwerk wat vroeg op ’n Maandagoggend saam by die skool in raaiselagtige omstandighede gesterf het.

In ’n restaurant in Welkom sit Terry Stiglingh (24) en Frikkie Liebenberg (25) langs mekaar, net ’n dag ná ’n tragedie wat ’n bekende Vrystaatse hoërskool én die land geruk het. Nie net het dit die lewe geëis van twee leiersfigure in die gemeenskap nie, maar ook van twee toegewyde pa’s – Terry se pa, Jaco, ’n departementshoof by Welkom-Gimnasium, en Frikkie se pa, Lieb, die adunkhoof.

Kort ná die saalopening daardie Maandagoggend is albei se lyke in Lieb (53) se kantoor aangetref. Hy het skietwonde in die maag en kop gehad en Jaco (51) ’n enkele skietwond deur die kop. ’n Vuurwapen het langs hom gelê. Volgens die lykskouer is Lieb blykbaar deur drie koeëls uit Jaco se vuurwapen getref.

Terwyl die landsvlag en die bruin-en-geel skoolvlag by Welkom-Gimnasium nog halfmas hang en die tonge in die stad los is oor ’n moontlike liefdesdriehoek, worstel Frikkie en Terry met hul eie vrae.

Hulle lyk verslae en geskok. In Terry se stem hoor jy die woede deurslaan – oor die gebeure, oor die onbeantwoorde vrae, oor die verlies van ’n geliefde ouer. Frikkie kom kalmer en rustiger voor, maar in sy oë sien jy die hartseer.

“Ons weet niks van ’n vete tussen ons pa’s nie,” sê hy. “Die enigste twee mense wat ooit sal weet wat agter daardie toe kantoordeur gebeur het, neem dit saam met hulle graf toe.”

Lees meer oor die tragiese gebeure in Huisgenoot van 10 September.