Thursday, 17 September 2009

Duim was sy sleutel tot sukses


Die letters verskyn stadig, een vir een, op die skerm. Dit neem hom ’n hele paar minute om moeisaam ’n enkele sin te tik. Dan, eindelik staan daar: “Niemand glo in wonderwerke nie. Ek maak staat op hulle.’’

Dr. Cival Mills (34) laat sy linkerhand versigtig langs die sleutelbord sak, sy wysvinger moeg van die inspanning. Sy blou oë kyk jou reguit aan, desperaat om te kommunikeer. Terwyl die meeste kwadrupleë darem kan praat en op hierdie manier na die mense om hulle kan uitreik, is Cival in sy eie liggaam en gedagtes vasgevang.

Dié voormalige mediese dokter ly aan inkluissindroom en kan buiten sy ooglede en linkerarm en -hand geen spiere in sy lyf beweeg nie. Hy het agt jaar gelede – net voor die motorongeluk wat sy lewe in ’n oogwink verwoes het – vir die laaste keer gepraat, gestap of iemand omhels. En tensy die wonderwerk waarop hy nou wag uiteindelik gebeur, is hy vir ewig gedoem om na binne te leef. Maar die moedige donkerkopman met die stuitige humorsin laat hom nie deur fisieke beperkings stuit nie: Hy het al twee boeke geskryf – selfs al kan hy net met sy linkerduim en -wysvinger tik.

’n Kennis het hom ’n unieke rekenaarmuis en -sleutelbord help ontwikkel waarmee gestremdes met minimale handbewegings hele paragrawe kan tik.

Dié patent is onder die naam Thingy geregistreer en Cival glo dit sal gestremdes wêreldwyd help om makliker te kommunikeer. ‘‘Glo my,’’ tik hy nou, ‘‘ek gaan die wêreld nog laat gons, as iemand net die tyd het om na my te luister.’’

Hy gebruik die toestel om motiveringstoesprake te skryf. Cival het selfs al vir oudpres. Nelson Mandela ontmoet en ’n toespraak aan hom voorgelê. Die ontmoeting, skryf hy, was die trotsste oomblik van sy lewe. Binnekort gaan hy ook sy linkerduim en -wysvinger inspan om sy spesiale kwadfiets die hele pad van Johannesburg na Ballito buite Durban te stuur. Hy gaan van 24 tot 27 September aan Family Adventures en die QaudPara Association of South Africa se jaarlikse geldinsamelingsprojek vir gestremdes deelneem.

Lees meer van hierdie merkwaardige dokter in Huisgenoot van 24 September.