
Dit hamer knetterend op die sinkdak, klop klaterend teen die vensters en krap irriterend teen die diefwering. Dit klink asof ’n onbekende vyand ’n volskaalse aanslag op die klein kliphuisie hier in die middel van nêrens van stapel stuur.
Maar dan sien jy dit: ’n klein handpalm met vyf vingertjies teen die venster . . .
Die handjie slaan aanhoudend teen die venster, want Lolly, ’n knaende bobbe-jaanwyfie, wil inkom. Sy wil nog ’n mielie hê. As jy by die voordeur uitloer, besef jy waar die kabaal vandaan kom: Lolly is net een van ’n hele trop bobbejane wat buite ongeduldig op versnaperinge wag. By elke venster sit ’n reuse mannetjie, bobbejaankleintjies hardloop heen en weer oor die dak en ’n swetterjoel wyfies het hulle op elke klip en boomtak tuisgemaak.
Rita Miljo (78), die tenger gryskopvrou wat hier woon, sug gelate, maak ’n venster oop en gee vir Lolly ’n mielie. ‘‘Ek gee net name vir die spesiale bobbejane,’’ sê sy. ‘‘Lolly is eintlik soet; sy sal weggaan as sy iets geëet het.’’
Dan stap Rita kombuis toe, skep ’n koppie vol mieliepitte uit ’n groot plas-tiekhouer en stap na buite, waar sy rustig tussen die horde bobbejane gaan staan. ‘‘Ek voer hulle net wanneer daar ’n droogte is. Hulle sal doodgaan as ek hulle nie kos gee nie,’’ verduidelik sy.
Die mense in die omgewing noem haar Mama Zimfene (ma van die bob-bejane), want benewens dié wilde trop woon nog sowat 500 bobbejane in hokke hier op haar erf van 20 hektaar in ’n wildreservaat buite Phalaborwa in Limpopo.
Daar’s sonde met die bure, want dié kla haar bobbejane is ’n oorlas, en Rita en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) wys ook kort-kort naels vir mekaar.
Maar die stigter en hoof van die Centre for Animal Rehabilitation and Education (Care) steur haar niks aan haar bure of die DBV se dreigemente nie. Sy leer haar bobbejane in aanhouding troppe vorm sodat hulle later weer in die natuur vrygelaat kan word. En sy beskou dit as haar lewenstaak . . .
Lees meer oor hierdie besonderse vrou in Huisgenoot van 24 September.