Friday, 11 September 2009

Nuwe wet om rooklus te demp


Hier is goeie of slegte nuus – dit hang af of jy ’n roker is of nie. Die nuwe rookwette, waarvan sommige al van krag is en ander eers oor ’n paar maande geïmplimenteer gaan word, sal rokers kwaai aan bande lê en die 78 persent nierokende Suid-Afrikaners groter beskerming teen tweedehandse rook bied.

Die wette is ’n uitbreiding van die Wysigingswet op die Beheer van Tabakprodukte van 1995 wat rokers uit restaurante, kantore, vliegtuie, winkelsentrums en flieks verban het of tot semi-afsondering verdoem het. En al het baie rokers nog skelm ’n dampie in die meeste klubs, kroeë en restaurante gemaak, sal dié wette die eienaars van openbare kuierplekke twee keer laat dink.

Hulle moes voorheen slegs R200 opdok as hulle kliënte toegelaat het om buite die aangewese aan ’n sigaret te teug. Maar dié boete is nou verhoog tot R50 000. Werkgewers wat die wet oortree, sal R100 000 beboet word, terwyl individuele rokers R500 opgelê sal word. As jy onder 18 is, sal jy nie in rookgebiede toegelaat word nie. Jy mag ook nie in ’n motor rook as ’n kind van jonger as 12 jaar ’n passasier is nie. Borsvoed in ’n rookgebied is ook taboe. Boonop mag niemand meer rook op persele, privaat huise inkluis, waar kinders teen vergoeding versorg word nie.

Die wettige ouderdom vir die koop van tabak is van 16 tot 18 verhoog. En sigaretmaatskappye mag nie meer partytjies ‘‘slegs vir genooide gaste’’ hou om tabakprodukte te bemark nie – ’n gewilde strategie sedert sigaretadvertensies in 2000 in Suid-Afrika verbied is. Kenners sê hulle hoop die nuwe wetgewing sal dié lewensgevaarlike gewoonte help bekamp wat jaarliks die lewe van 44 000 Suid-Afrikaners eis.

‘‘Ek is vol vertroue dat hierdie wette die risiko op tabakverwante siektes en sterftes sal verlaag omdat dit rokers dikwels die gewoonte laat vaar of hul verbruik inkort en nierokers beskerm. Dit het al voorheen doeltreffend blyk te wees,’’ sê dr. Yussuf Saloojee, uitvoerende direkteur van die Nasionale Raad teen Rook.

Vergewis jou van die feite van die nuwe rookwet in Huisgenoot van 17 September.