Thursday, 03 September 2009

PE-stadion eerste van 2010 wat blom


Ry Saans Port Elizabeth binne en die helderste ligte in die stad straal uit een plek wat in ’n kits al die inwoners se trots geword het.
Nie net is die Nelson Mandelabaai-stadion die eerste 2010-stadion wat voltooi is nie, dit is ook die stadion wat die vinnigste nóg op enige plek ter wêreld gebou is.

Die stadion, aan die oewer van Port Elizabeth se Noord-eindemeer met sy dak in die vorm van ’n sonneblom wat hemelwaarts oopmaak, is iets om te aanskou – maar dit het ook nie sonder drama tot stand gekom nie.

Aan die begin van verlede jaar was die bouwerk so ver agter dat Fifa gedreig het om al Port Elizabeth se 2010-Wêreldbekerwedstryde te verskuif tensy hy sy sokkies optrek, en sommer gou ook. Die sokkerliggaam het ook reeds die stad se naam van die lys gashere vir die Konfederasiebeker gehaal, want hulle het gemeen die stadion sou nooit betyds klaarkom nie.

Maar toe het die stadionbase alles begin uithaal. Hulle het kenners van oor die wêreld laat kom en spanne van meer as 700 werkers dag en nag laat werk om die agterstand in te haal – en hulle het dit reggekry. Selfs Fifa se president, Sepp Blatter, wat nie maklik tevrede gestel word nie, was beïndruk deur die ommeswaai.

Afgesien van klein, kosmetiese detail is die stadion nou reg om die wêreld onder sy sonneblomdak te verwelkom. En soos Fifa se riglyne bepaal, is dit al minstens drie keer gebruik, vertel Christa van Schalkwyk van die projekbestuursmaatskappy BKS Engineering and Management.

‘‘Voor enige van die stadions aan die plaaslike reëlingskomitee oorhandig word, moet dit getoets word om te bepaal of dit ten volle gereed is,’’ verduidelik sy.

‘‘Ons het in Junie ’n wedstryd van die Britse en Ierse Leeus hier aangebied en in Julie ’n wedstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates.’’

Maar die grootste toets was die eerste geleentheid – ’n ope dag op 7 Junie om die stadion aan die inwoners van Port Elizabeth bekend te stel.

Lees meer oor Port Elizabeth se trots in Huisgenoot van 10 September.