Friday, 13 February 2009

Vlammehel – die Australiese tragedie


Dit was soos ou prentjies van die oordeelsdag.

“ ’n Brandende haelstorm van die hel het genadeloos neergesif. Die wind en gloeiende kole ondersoek elke hoekie van die huis soos die kloue van ’n roofdier.’’ So beskryf Gary Hughes, verslaggewer van The Australian, die ergste weghol-veldbrande in menseheugenis in Australië nadat hy net-net met sy lewe daarvan afgekom het toe sy huis buite Melbourne verwoes is.

Ander was nie so gelukkig nie. Die dodetal in dié vagevuur was dae gelede al byna tweehonderd en styg steeds – teenoor 75 slagoffers van die vorige grootste brand in 1983.

Dié keer was dit soveel erger. Te midde van ’n hittegolf van 47 °C is sowat vierhonderd brande oral in die staat Victoria op Saterdag 7 Februarie deur winde van tot 90 km/h aangejaag, en nie eens die 3 000 brandweermanne kon dit keer nie.

Vlamme van tot vier verdiepings hoog het soos ’n sneltrein deur ’n gebied van 2 850 km² gejaag en dit tot op die grond afgebrand. Sowat 750 huise is verwoes.

Die hitte van die vuur het bome laat ontplof en selfs die allooi-wiele van motors laat smelt. Mense het in damme gespring of met hul motors in mere gejaag om van die vlamme te vlug.

Terwyl nooddiens- en ander werkers nog maande gaan sukkel om mense op die been te help kom, is Australië in rou en roet gedompel.

Skilderagtige bergdorpies soos Marysville waar agthonderd mense eens gewoon het, is soos in ’n atoombomaanval van die landkaart gevee. Gastehuise, eeue oue eikebome, ’n skool en kerkie bestaan net nie meer nie.

“Almal is weg. Almal. Hul huise is weg. Hulle is almal dood in die huise daar,’’ het Christopher Harvey, ’n oorlewende, huilend gesê terwyl hy deur die dorp Kinglake gestap het waar die meeste mense gesterf het.

Die landskap tussen Marysville en Kinglake is verlate, met net die uitgebrande wrakke van woonwaens, bote, motors en motorfietse wat teen bome vasgejaag het as die tekens dat hier ooit mense was.

Lees meer oor die ramp wat Australië getref het in Huisgenoot van 19 Februarie.