Friday, 06 February 2009

Bryan Habana raak verloof


Dis veel, veel makliker om deur ’n tros teenstanders doellyn toe te swenk vir ’n drie. Vra hom, hy’t self bloed gesweet oor dié ding.

Bryan Habana glimlag darem nog. En breed daarby. Ook nie omdat hy een van die vinnigste rugbyvleuels ter wêreld is nie. Dit is oor daardie knoets van ’n diamant wat aan die Bok-speler se meisie, Janine Viljoen (26), se linkerhand pronk.

Ná vier jaar saam het die twee in Desember verloof geraak – en vandag, ná maande van baie mooi vra, deel die man wat dalk met reg Suid-Afrika se grootste sportster van die laaste dekades genoem kan word, eindelik van sy privaatste oomblikke eksklusief met Huisgenoot. Dit is ’n groot oomblik, want Bryan waak jaloers oor sy lewe weg van die rugbyveld.

Hy was in 2007 die Internasionale Rugbyraad se speler van die jaar, én die top-puntemaker in die laaste Wêreldbeker-rugbytoernooi. ’n Internasionale advertensie waarin hy saam met supersterre soos die gholfspeler Tiger Woods, die sokkerster Thierry Henry en die tennis-wonder Roger Federer verskyn het, en pas nog een saam met die Russiese tennisster Elena Dementieva en Brittanje se sokkerwonder Michael Owen, getuig van sy internasionale aansien.

Maar op hierdie sonnige Kaapse oggend is die man wat ons saam met sy pragtige blonde verloofde by die spoggerige Cullinan-hotel in die middestad ontmoet, die beskeidenheid self. En steeds baie opgewonde oor die groot stap in hul albei se lewe voorverlede maand.

“Was dit nou vir jou ’n gedoente,” vertel Bryan (25). “Daar was baie beplanning, baie voorbereiding en baie geheime onder die tafel.”

“Ja, dit is nóú snaaks,” sê die beeldskone blondekop laggend terwyl sy Bryan speels op sy arm tik.

’n Mens kan sien waarom sportkenners hom as een van die beste ambassadeurs vir ons land beskou. Hy is vriendelik en opreg en steeds nederig ten spyte van sy reuse sukses op die rugbyveld.

Lees meer in Huisgenoot van 12 Februarie oor hoe Bryan die groot vraag gevra het.