Friday, 27 February 2009

SAL: Daar vlieg ons beeld!


Selfs doeane-beamptes by die Heathrow-lughawe in Londen was verbaas toe die bemanning van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vlug 234 op heter daad met dwelms betrap is. Dit was immers minder as ’n maand ná die eerste voorval, wat al klaar ’n enorme verleentheid vir ons nasionale lugdiens én die land was.

Tog was daar 5 kg kokaïen met ’n straatwaarde van sowat R3,7 miljoen in ’n onopgeëisde tas met ’n etiket van die Suid-Afrikaanse lugdiens daarop. Dié is so ewe op ’n bus agtergelaat waarin die bemanning van die vliegtuig na die lughawegebou geneem is.

Die jongste skok volg op ’n dwelmvonds van 50 kg dagga en 4 kg kokaïen ter waarde van sowat R4,6 miljoen nadat beamptes by Heathrow in Januarie ’n SAL-vliegtuig se bemanning deursoek het.

Toe het Suid-Afrikaanse lug-hawe-beamptes onderneem om die sekerheidstelsel vir bemanningslede op te skerp. Die land kon immers nie hier kort voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi bekostig dat sy nasionale lugdiens nog groter skandes maak nie. Maar dis presies wat nou gebeur het . . .

En terwyl die sekerheid by O.R. Tambo- Internasionale Lughawe verskerp word en beamptes by Heathrow selfs nog waaksamer word, blyk dit dat hierdie twee voorvalle bloot die oortjies van die seekoei is.

Aangesien bemanningslede nie deeglik genoeg by die O.R. Tambo-lughawe deursoek word nie, is hulle ’n maklike prooi vir goed georganiseerde dwelmsmokke-laars, sê ingeligte bronne. Huisgenoot het twee mense opgespoor – ’n bemanningslid van SAL wat gereeld internasionale vlugte onderneem en ’n lugdiens-sekerheidsbeampte wie se vakbond ons na hom verwys het – wat onthul het hoe misdaadsindikate op bemanningslede jag maak en hulle groot geld aanbied om dwelms oor die wêreld heen te karwei.

“Bemanningslede weet dis ’n groot risiko,” sê die bemanningslid wat met ons gepraat het op voorwaarde dat sy naamloos bly. “Tog doen hulle dit ter wille van die geld.”

Lees meer oor hierdie voorvalle wat Suid-Afrikaners laat bloos in Huisgenoot van 5 Maart.