Friday, 27 February 2009

Ontgroening: Ek moes praat


Sy was oortuig sy het die regte besluit geneem. Dié arbeidskonsultant het pas vanaf Kaapstad na Johannesburg getrek en eers mooi geluister na vriende se raad en by verskeie skole gaan inloer voor sy eindelik besluit het om haar seun Pierce* (17) na ’n vooraanstaande seunskool in die noordelike voorstede te stuur.

Pene Kimber was beïndruk met Parktown Boys High se ferm houding jeens dissipline en Pierce was vreeslik opgewonde oor al die sportsoorte wat hy daar sou kon beoefen. Maar die grootste pluspunt was die koshuis.

‘‘As ’n enkelma het ek gedink hy sal in die week by die skool veilig wees,’’ sê sy.

Maar nou is sy bitter spyt oor haar besluit. Trane wel in haar oë op wanneer sy vertel hoe die nagmerrie ontvou het. ‘‘Toe ek hom op 6 Februarie by die skool gaan oplaai, kon hy kwalik sit. Met ’n bietjie aanmoediging het hy my vertel ’n groep matriekseuns het hom tydens die ontgroening geslaan – nee, eintlik aangeval.’’

Haar seun het haar gesoebat om niks te sê nie. Dit sou dinge net vererger, het hy gesê. Maar Pene kon nie stilbly nie – en wat sy te sê gehad het, het opslae gemaak in die media en weer eens die kollig op die omstrede kwessie van ontgroening gevestig.

Pierce se sitvlak was pimpel en pers, sê sy. Daar was omtrent nie ’n sentimeter wat nie gekneus was nie. Hy het sy ma vertel hoe ’n groep matrieks hom en die ander gr. 11-seuns gedwing het om Deep Heat aan hul geslagsdele te smeer. Die matrieks het hulle toe met krieketkolwe en hokkie- en gholfstokke bygekom.

‘‘Pierce het volgehou hy wil nie die band tussen die seuns verbreek nie,’’ sê sy ma. ‘‘Maar as ek my vir geweld blind moes hou, sou dit net beteken ek keur dit goed. En as ’n ma moes ek my kind beskerm.’’

Sy het die saak by die skool aangemeld, maar beweer daar is maar min daaraan gedoen tot sy in die openbaar uitgepraat het.

Lees meer oor die kwessie van ontgroening in Huisgenoot van 5 Maart.