Friday, 20 February 2009

Kinderwet: So kan dit tog werk


Gedeelde toesig – dit sou die towerwoorde wees wat alle ongelykhede tussen ouers wat skei, finaal van die tafel moes vee. Voortaan sou albei ouers ewe veel reg oor hul kinders hê, en kinders sou die betrokkenheid van albei ouers geniet.

Dit, altans, was die teorie toe die Kinderwet in 2005 herskryf is om albei ouers ná ’n egskeiding gelyke regte en verantwoordelikhede oor hul kinders te gee. Maar die praktyk het vir sommige ouers nou ’n bloedige, bitter en voortgesette oorlog geword.

Toe Daphne Muller* verlede jaar geskei het, het sy geweet hier kom moeilikheid. Groot moeilikheid.
‘‘Ek het probeer aandring op alleentoesig oor my kinders, want ek en my eks het toe lankal oor niks meer saamgestem nie,’’ vertel dié professionele vrou van Pietermaritzburg en ma van twee dogtertjies. ‘‘Maar die Gesinsadvokaat het volgehou dat gesamentlike toesig die antwoord is.’’

Ingevolge die nuwe wet, waar die woord ‘‘toesig’’ nou gewyk het voor ‘‘gelyke regte en verantwoordelikhede’’, moet Daphne en haar man saam besluite neem oor hul kinders. ‘‘Maar ek het geweet hy sal oor alles met my verskil,’’’ vertel sy. En die wet het geen doeltreffende maatreëls vir die hantering van sulke twispunte nie.

So was dit toe ook verlede maand toe haar jongste in gr. 1 moes inval by die privaat skool waar haar oudste reeds ’n leerder is. ‘‘ ’n Dag voor die begin van die nuwe skooljaar, met haar skoolklere reeds aangeskaf, het my eks skielik toestemming geweier dat sy die skool bywoon omdat dit te duur sou wees. Hy het ’n prokureursbrief hieroor aan die skool gestuur,’’ vertel Daphne.

Nie eens die skool weet of hulle ingevolge die nuwe wet moet weier om die kind in te neem nie, en Daphne het toe besluit om maar deur te druk. Intussen het haar man ophou onderhoud betaal.

Maar dit is veral ook pa’s wat in talle briewe aan Huisgenoot kla dat hul regte om ten volle in hul kinders se lewe te deel, steeds misken word, nuwe wet of nie. En hul groot dilemma is dat hulle skynbaar hulpeloos is om dié regte te laat afdwing.

Lees meer oor die nuwe Kinderwet in Huisgenoot van 26 Februarie.