Friday, 13 February 2009

My eks het ons kind ontvoer


Buite die stoepdeure van die restaurant Del Fuego in Roodepoort lê die groot, bont springkasteel op ’n hoop. Daar’s nie meer rede om dit op te blaas nie, want die seuntjie wat daarop moet spring, is weg.

Op Sondag 8 Februarie het Geraldine Kelly, ’n bestuurder by die restaurant, haar lieflingseuntjie by sy pa gaan aflaai om ’n paar dae by hom in Montgomery Park, Johannesburg, te kuier.

Soos altyd wanneer die vierjarige Kamal Malaka by Abdalmajid is, het Geraldine hom die Maandagmiddag net ná skool gebel. Toe sy hom weer die aand wou bel, het Abdalmajid eers die foon doodgedruk en toe sy weer bel, haar per SMS laat weet dat sy die volgende oggend moet bel, want hy is in ’n belangrike vergadering.

Maar daardie oggend het ’n onderwyseres van die Preprimêre Skool Linden, waar Kamal skoolgaan, Geraldine (23) gebel met die verwarrende nuus: Kamal was nou al vir die tweede dag afwesig.

Geraldine was uit die veld geslaan. Sy het die vorige middag aangeneem dat hy by die skool was en nie spesifiek daarna uitgevra nie. Toe sy Abdalmajid se twee selfoonnommers probeer skakel, was albei telefone af.

Toe bel sy sy werkgewer in Fourways waar hy as barbier werk en kry die skoknuus: Abdalmajid het al twee weke tevore bedank.

Baie bekommerd is sy na die huis wat hy met sy broer deel. Dié het gesê hy het die vorige dag ná ’n rusie sy goed gevat en geloop. Geraldine het al soekend deur die huis gestorm, maar daar was geen teken van pa of seun nie. Al hul besittings, selfs Abdalmajid se meubels, was ook weg.

Bewend het sy na haar motor gestrompel. Hy was dan vort met haar kind – nou al vir die tweede keer. En dié keer het sy geen benul waar om te begin soek nie . . .

Lees meer oor Geraldine se dilemma in Huisgenoot van 19 Februarie.