
Die kleinding is salig onbewus van die bohaai wat om haar kop losgebars het met haar geboorte. Nee, haar pa is nie ’n beroemde rolprentster nie – hy’s heel moontlik ’n bogsnuiter van net dertien jaar oud.
Wêreldwyd weet mense deesdae hoe Alfie Patten lyk nadat hy op 9 Februarie die pa van ’n babadogtertjie geword het. Kyk maar self – geen skeermes was al ooit naby dié babagesiggie nie.
Die ma, Chantelle Steadman, is vyftien jaar oud en vermoedelik ’n kat van ’n gans ander kleur. Want enkele dae ná die geboorte moes Alfie ’n vaderskaptoets laat doen om-dat daar glo soveel as agt ander moontlike pa’s kan wees . . .
Daar word trouens nou gefluister dat Chantelle se ma haar aangemoedig het om te sê Alfie is inderdaad die pa sodat hulle geld uit die storie sou kon maak.
Clive Sim, ’n goeie vriend van Chantelle se ouers, sê hulle het hul dogter gevra “om stil te bly’’ oor die feit dat sy ook by ander seuns geslaap het. “Hulle weet as Alfie die pa is, is dit ’n beter storie,’’ sê hy. “Ek dink daar is ’n groot bedrogspul aan die gang.’’
Tog hou Alfie en Chantelle vol hy is die pa. En nou word groot geld gepraat – daar is sprake van meer as R400 000. Daar was glo selfs planne om die uitslag van die vaderskaptoets regstreeks op TV bekend te maak.
Intussen maak ’n kamera-span reeds ’n dokumentêre program oor die hele affêre.
Die dogtertjie, Maisie Roxanne, woon nou saam met haar ma, dié se vyf broers en susters en haar werklose ouers, Steve en Penny Steadman, in ’n beknopte munisipale huis in Eastbourne, Engeland.
En Alfie woon by sy ma, Nicola (43), maar is meestal by die Steadman-gesin se huis. Hy was twaalf jaar oud toe die kind verwek is, en dit het tot hewige debatte gelei oor ouers wat hul kinders afskeep, seksopvoeding in skole en te veel tienerswangerskappe in Brittanje.
Lees meer oor die opspraakwekkende storie in Huisgenoot van 26 Februarie.